Subscribe by Email

Koerde dood 13 Turkse soldate

Die Turke se turksvy met die Koerdiese separatiste in dié land het nog groter geword toe berig is dat 13 Turkse soldate in ‘n hinderlaag in die ooste van die land doodgeskiet is. Nog ses is gewond.

Die Turkse staatsmedia het gou die blaam op die verbode Koerdiese Arbeidersparty, bekend as die PKK, geblameer. Die Koerde agiteer al eeue lank vir ‘n onafhanklike Koerdiese staat, en sowat 40 000 mense is al dood, maar die Turke se aanvanklike reaksie was om die gebruik van die Koerdiese taal te verbied, en stede en dorpe wat Koerdiese name gehad het, met Turkse name te vervang.

In die mees onlangse jare het Turkye, wat graag lid van die Europese Unie wil word, sy posisie versag. Die EU se grondwet vereis dat minderhede selfbeskikking moet kry, iets waarby die Baske en Kataloniërs gebaat het toe Spanje lid van die EU geword het.

Beide die EU en die VN beskou die PKK egter as ‘n terrurorganisasie.

Dele van Sirië, Irak en Iran sluit ook gebiede is wat as Koerdistan bekend staan, maar op geen wêreldkaart aangetref word nie.

Herman Toerien