Subscribe by Email

Koeël deur kerk met Kovsieleuse

Kovsie-dosente wat in vertroulike privaat gesprekke laat blyk het hulle hou steeds duim vas dat instansies wat die UV-bestuur oor die weglating van God uit die leuse aangedurf het, die knoop sou deurhaak deur ‘n herbesinning, se verwagtinge beskaam. Dieselfde geld vir talle oud-studente en huidige studente: Die rektor, Prof. Jonathan Jansen staan ferm, en die ATKV, ‘n sambreelliggaam vir Afrikaanse kultuur-organisies, het teensinnig die aftog geblaas.

Ditsem Vrystaat het agter die kap van die byl probeer kom na Jansen wye kritiek met die besluit ontlok het, met ‘n lang skrywe van prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, as die vlagskipprotes, maar niks weer sedertdien verneem is nie na dele van die FAK-brief in die media gedra is.

In Januarie vanjaar het Afriforum Jeug ‘n “referendum” onder Kovsiestudente gehou, met meer as 93 persent van die deelnemers (ongeveer ewe veel wit en swart) het geoordeel hulle wil God terug in die leuse sien. Sedertdien is Afriforum Jeug gereeld in die nuus oor sy mislukte pogings om as studenteliggaam te kan registreer.

Omdat oorlegpleging – soms ook wye konsultasie – gereeld in die media ter sprake gekom het sedert prof. Jansen die leisels oorgeneem het, het Ditsem Vrystaat eens vir altyd probeer vasstel hoe hierdie vurk in die hef steek. Ditsem se navraag ‘n week voor saktyd aan die skakelburo is na Jansen verwys, wat skriftelik opdrag gegee het dat dit beantwoord moet word. Ten spyte van ‘n herinnering en versekering deur die skakelburo, is die navraag egter nie beantwoord nie.

By navraag het Ditsem wel via Solidariteit se navorsingsinstituut insae gekry in beide die brief van Jansen aan die FAK, en die FAK se reaksie daarop. By navraag het Goosen bevestig dat Ditsem se vertolking van die uitkoms, ‘n billike weergawe van die afloop van die lang briewe oor en weer is.

Jansen het in sy skrywe gewys dat: “…die primêre bronne by die formulering en goedkeuring van elke nuwe leuse nie dui op ‘n verandering van die wese van die Universiteit van die Vrystaat nie, maar staan in verband met akademiese verantwoording en strategiese rigtingbepaling vanweë die onafwendbare, voortdurende en veranderde omstandighede wat ons relevansie en voortbestaan telkens uitdaag.”

In reaksie skryf Goosen: “U noem dat die leuseverandering nie verband hou met ʼn wesensverandering by die universiteit nie, maar u hantering daarvan dui daarop dat u dit wél as wesensveranderend sien.”

Jansen vervolg: “Juis in hierdie tyd (die 50-gerjare) het die aandrang van die NG Kerk van die OVS dat die Universiteit hom moet verbind tot ‘n Christelike karakter en ‘n strewe om in ooreenstemming te wees met die (Afrikaner) volksaard van die provinsie, by die Raad van die Universiteit ingang gevind. Aan die universiteit het nie almal hulle hiervoor laat vind nie. Dit is ook op niemand afgedwing nie. Maar, dit is bale duidelik dat ‘n oriëntering aan die Afrikanernasionalisme en kontemporêre begrip van die Suid-Afrikaanse werklikheid besig was om ‘n beduidende rigting aan die UV te word. In die lig van die tradisie van die UV waarin beide Afrikaans en Engels as onderrigtaal gebruik is en waarin akademiese diversiteit ‘n tuiste gevind het, het hierdie kulturele keuse akademici en studente van die UV vervreem en talle inwoners van die Vrystaat die reg om aan die UV te studeer en te deel in sy akademiese uitmuntendheid eenvoudig ontneem. Iets wat die Universiteit nooit weer van iemand mag ontneem nie.”

Goosen reageer hierop: “U plaas dit in verband met “die aandrang van die NG Kerk van die OVS dat die Universiteit hom moet verbind tot ʼn Christelike karakter en ʼn strewe om in ooreenstemming te wees met die (Afrikaner) volksaard van die provinsie.” U vervolg dat dit “baie duidelik [is] dat ʼn oriëntering aan die Afrikanernasionalisme en kontemporêre begrip van die Suid-Afrikaanse werklikheid besig was om ʼn beduidende rigting aan die UV te word.” U stel dit vervolgens dat die “kulturele keuse” vir Afrikaans as onderrigtaal mense vervreem en uitgesluit het van hul reg om te deel in die universiteit, “iets wat die Universiteit nooit weer van iemand mag ontneem nie.”

Jansen skryf in sy slotgedeelte onder meer: “Tog (in die lig daarvan dat onder meer die FAK en die Voortrekkers self nie na God verwys nie) vra u of die Universiteit van die Vrystaat God uit die leuse verwyder het en daarmee ook impliseer dat teen mense wat in die Christelike geloof staan, institusioneel gediskrimineer (sal) word. Dit is baie ernstige vrae wat ten minste ook die (geloofs) integriteit van raadslede onder verdenking sou kon bring. Ons het met opgaaf van redes duidelik gemaak waarom ons in ‘n nuwe leuse iets oor onsself sê, eerder as om oor God aan die woord te kom.”

Hierop antwoorde Goosen:

1. U meen dat die weglating van God uit die UV se nuwe leuse nie neerkom op ʼn institusionele verwerping van God of die Christelike geloof nie, maar u noem dat ʼn leuse terselfdertyd tog kernwaardes eie aan ʼn instelling verwoord.

2. U wys op die negatiewe gevolge van die vroeëre karakter van die universiteit soos wat dit gevorm was in reaksie op ʼn toenmalige Suid-Afrikaanse politieke werklikheid, maar u verdedig vervolgens die huidige leuseverandering aan die hand van dieselfde soort beroep op kontemporêre werklikheid.

“Vir die FAK blyk dit dat die alternatief wat u tot wesensverandering aanbied, in der waarheid niks anders as wesensverandering is nie.

“Hoopvol soos ons aangaande hierdie saak ook al is, besef ons dat die leuseverandering nou waarskynlik nie meer deur die UV heroorweeg sal word nie en dat die UV sal voortgaan met hierdie fundamentele verandering sonder om dit as ʼn wesensverandering te hanteer.”

Intussen het die studenteraadsverkiesing wat partyloos plaasgevind het. Sonder voorvalle verloop maar ‘n stempersentasie van slegs 31 % is behaal. Op die Qwaqwa-kampus is politiek wel toegelaat, en Sasco het gemaklik die botoon gevoer.

Sasco het ‘n mislukte dringende aansoek probeer bring om die verkiesing op die hoofkampus te stuit, maar aangedui dat regstappe oorweeg word om die studenteraadsgrondwet ongeldig te verklaar. Afriforum Jeug speel hul kaarte teen die bors.
Herman Toerien