Subscribe by Email

Kliptown-reaksies

Die Afrikanerbond het die laaste twee se beraad oor sosiale kohesie en nasionale versoening te Kliptown bygewoon. Ons aanvanklike bedenkinge oor die program, die inhoud en die deelnemers het egter bevestig dat die dringende behoefte aan nasionale versoening deur die ANC misbruik is vir sy eie politieke agenda.

In die twee dae is net meer as 2 uur afgestaan aan bespreking vanaf die vloer deur deelnemers terwyl die res van die tyd meestal gevul is deur sprekers uit die geledere van die ANC. Van die sprekers het meer kwaad as gedoen en is die opregte vrese en verwagtinge van kulturele minderhede soms met snedigheid afgejak. In die geval moet minister Nkosazana Dlamini-Zuma se verwerplike aantyging dat minderhede hulleself as superieur beskou, met minagting verwerp word. Dit was onnodig en ʼn voortsetting van die ANC se siening oor minderhede waarvan ʼn paar is;

“colonialists of a special kind,” (Thabo Mbeki)
“Once we agree they stole our land, we can agree they are criminals and must be treated as such” (Julius Malema)
“some people still feel superior because they belong to a certain race.” Nkosazana Dlamini-Zuma

Bogenoemde is maar enkele van die uitlatings deur lede van die ANC in die onlangse verlede en was die pasafgelope beraad ook deurspek met aantygings en propaganda. Dit is jammer dat so ʼn geleentheid misbruik is om eie belange en steun in die regerende party te bevorder, ten koste van nasiebou. In die proses van nasiebou, nasionale versoening en sosiale kohesie, waarvan die noodsaak geensins ontken word nie, kan die ANC/regering nie terselfdertyd speler en skeidsregter wees nie. Hoogstens kan die ANC/regering maar net ʼn deelnemer wees, in ʼn onafhanklike en deursigtige proses. Na ons mening so sou ʼn proses beter bestuur en gefasiliteer kon word vanuit die burgerlike gemeenskap. In die Dinokeng scenarios van 2009 is drie scenario’s aan Suid-Afrika voorgehou. Die derde scenario, Loop Saam, wat allerweë aanvaar is, word ons uitdagings aangespreek deur aktiewe burgerbetrokkenheid, ’n bevoegde staat en sterk leierskap in al die sektore. Daarom sou iemand soos dr Mamphela Ramphele wat die Dinokeng proses begin het en as leidende en gerespekteerde Suid-Afrikaner haarself bewys het, die ideale persoon wees om so ʼn proses verder te fasiliteer.

Versoening het gekom en gegaan. Waar doodgewone Suid-Afrikaners daagliks probeer oorleef op ekonomiese, maatskaplike en sosiale gebiede het die regering en sy kaders voortgegaan en ʼn wig al dieper ingedryf tussen, Suid-Afrikaners van alle agtergronde en rasse. Die 1994 sogenaamde Mandela droom van versoening, nasiebou en aartsbiskop Desmond Tutu se reënboognasie is deur openbare uitsprake, beleidsuitvoering, gebrekkige leierskap en politieke opportunisme en gedienstigheid ongedaan gemaak. Die goeie trou en wil tot verbintenis tot die sogenaamde “nuwe Suid-Afrika” het spoedig gelei tot algemene ontnugtering. Dit is tydens die pasafgelope beraad herbevestig.

Waar versoening en nasiebou die agenda bepaal het in 1994 is dit alles in die laaste 18 jaar ongedaan gemaak deur:

ANC lojaliste wat in bestuursposisies aangestel word waarvoor hulle nie opgelei is nie en bepaald nie die kundigheid of ervaring het nie;
Kaders wat deur herontplooiing, (wat net ʼn ander woord is vir die hersirkulering van swak bestuur) ons staatsdiens en semi-staatsinstellings lamlê;
Rampspoedige eksperimente met ons onderwys waar daar vir elke 100 Graad 1’s slegs 1 gradueer. Die fiasko en groeiende krisis met onafgelewerde skoolhandboeke dra by hiertoe.
Sterftes van pasgebore babas in staatshospitale wat toegeskryf word aan nalatige optredes;
Grusame moorde en aanrandings op onskuldige slagoffers;
ʼn Polisiediens wat self so inherent korrup is en self ʼn toenemende en groter rol in die pleeg van misdaad speel;
korrupsie en wanbestuur wat die norm is;
Openlike uittarting van die regstaat;
Semi staatsinstellings wat nie meer selfstandig kan funksioneer nie, en van staatshulp afhanklik is;
Voedselsekuriteit wat bedreig word deur ʼn ondeurdagte Groenskrif op grondhervorming;
Vakbond en jeug ekstremiste wat die septer swaai;
Openbare oproepe deur jeugdiges dat die regering produktiewe landbougrond en myne moet nasionaliseer;
Eensydige pleknaamsveranderinge wat die geskiedenis van minderhede misken;
Marginalisering van inheemse tale en die afskaling van Afrikaanse universiteite en skole;
Dreigemente tot Afrikaanse skole om Engelse klasse in te stel, teen die taalbeleid wat deur beheerliggame daargestel word;
Infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie en daagliks verval;
Blatante leuens oor die wit bevolking dat hulle die grond sou gesteel het;
Beleid wat op nuwe rassisme gegrond is soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

So kan ons die lys daagliks aanvul. Die staatsverval en daaglikse krisisse wat alle Suid-Afrikaners teister kan alles teruggevoer word na die toepassing en blinde navolging van die Nasionale Demokratiese Revolusie. Daarom is die ideologie die grootste enkele bedreiging vir versoening en daarom kan die ANC en regering eerstens nie die proses verder neem en fasiliteer nie as gevolg van sy eie rol in die polarisering van gemeenskappe en tweedens omdat so ʼn proses nie deur ʼn speler en skeidsregter bestuur kan word nie.

Die Afrikanerbond het tydens die twee dae beraad ʼn ontleding van Maleisië wat deur dieselfde proses van versoening en nasiebou is, aan minister Paul Mashitele oorhandig. Maleisië, ‘n multikulturele land, stel die volgende uitdaging in die dokument Visie 2020:

“Die uitdaging van die stigting van ‘n verenigde Maleisiese nasie met ‘n gemeenskaplike van ​​en gedeelde bestemming. Nog ‘n uitdaging is die stigting van ‘n ​​volwasse en verdraagsame samelewing waarin Maleisiërs van alle rasse, kulture en gelowe vry is om hul gebruike, kultuur en godsdienstige oortuigings uit te leef, en tog te voel asof hulle tot een nasie behoort.” In Suid-Afrika word die diversiteit absoluut ontken en word ʼn kunsmatige eenheid nagejaag op grond van standpunte en raamwerke wat deur die ANC geformuleer word.

Verskeie minderhede het hul al verbind daartoe om saam te werk tot die toekoms van ʼn suksesvolle Suid-Afrika. In ‘n land soos Suid-Afrika kan die vele minderhede wat die diversiteit van Suid-Afrika se samestelling uitmaak, nie geïgnoreer word nie. Om dit te ontken of bespotlik te maak is nie in Suid-Afrika se belang nie. Daarom kan die proses nie verder deur die ANC geneem word nie, maar glo ons dat die burgerlike gemeenskap die inisiatief en leiding verder moet neem.

Kliptownberaad: Doen nou die regte dinge

“Swak gekose woorde kan die beste bedoelings tot niet maak, en daarvan was daar klaarblyklik heelwat by die Kliptownberaad. Maar, geoordeel aan die koerante se meningsblaaie, was niks so gevaarlik soos die uitlatings van die minister van Binnelandse Sake, Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma nie.

“Die CDP vertrou dat wysheid en werklike kundigheid sal seëvier wanneer die roete vorentoe na die kongres uitgepluis word,” aldus die leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP), ds. Theunis Botha.

“As die regering dit in die oog het om die nasie met ‘n soort samehorigheid te laat saamtrek, is dit nodig dat hy sy oortuigings in pas bring met die internasionale deklaries oor minderheidsregte, waarvan die land ‘n mede-ondertekenaar is. Dit moet ook beteken dat die Christen-meerderheid nie die gevoel moet ervaar dat hulle as ‘n onwelkome minderheid geen spoor op die Suid-Afrikaanse samelewing behoort af te druk nie.

“Dlamini-Zuma se woorde sal nie goed afgaan by die sukkelende en dikwels onderdrukte minderhede van die kontinent nie, wat volgens die International Minority Rights Groupse 2012 jaarverslag gewoon van hul grond afgedwing word sodat meerderhede dit van alles wat die moeite werd is kan stroop nie. Die vraag wat gevra moet word, Is Dlamini-Zuma werklik geskik vir die AU-pos waarvoor Suid-Afrika haar kandidatuur so hard druk?

“Uit mediadekking lyk dit of sy gesindhede in Suid-Afrika nou ernstig geskaad het, en moet dit bevraagteken word of dit wys is om haar in ‘n posisie te plaas waar sy op kontinentale skaal kan skade aanrig.

“Die CDP vind pres. Jacob Zuma se media-onderhoud oor plaasaanvalle, wat tydens die duur van die beraad gepubliseer is, ook baie ongelukkig. Met die moordkoers van boere en hul gesinslede minstens drie keer so hoog as Suid-Afrika se gemiddelde moordkoers, wat op sy beurt ses keer hoër as die wêreldgemiddeld is, diskrediteer die president homself deur te sê dis bloot in pas met die land se misdadsyfers.

“Ons wag ook nog dat Ronald Lamola gerepudieer of aangespreek word.”

Zuma oningelig oor plaasmoorde
“President Zuma is duidelik oningelig oor plaasmoorde as hy sê ras speel geen rol in plaasmoorde nie. Navorsing het reeds in 2003 getoon dat ongeveer 2% van plaasmoorde rasgedrewe is. Daar kan egter nie met sekerheid gesê word wat die huidige presiese persentasie is van plaasmoorde wat rasgedrewe is nie, omdat misdadigers nie maklik erken dat dit rasgedrewe is nie. Gewoonlik word gesê dit is gewone kriminaliteit. Die werklikheid is dat die wreedheid waarmee plaasmoorde plaasvind, getuig dat dit nie net gewone kriminaliteit is nie,” sê mnr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Polisie.

“Die president moet eerstens vir ons sê hoeveel plaasmoorde het sedert 2007 plaasgevind om sy stelling te kan bewys. As in ag geneem word dat die moordsyfer op boere ongeveer 313 per 100 000 van die bevolking is en die moordsyfer tans 32 per 100 000 vir die gewone bevolking is, is dit duidelik dat die boere ‘n spesifieke teiken is. Indien Zuma plaasmoorde wil oplos moet hy aan die versoek van die Vryheidsfront Plus, wat die party sedert 2007aan die regering rig, om misdaadstatistiek oor plaasmoorde beskikbaar te stel en plaasmoorde as ‘n prioriteitsmisdaad te verklaar, voldoen,” het Groenewald bygevoeg.