Subscribe by Email

Klimaatverantwoordelikheid teenoor die natuur

‘n Groot debat word gevoer oor hoe groot die mens se rol is om klimaatverandering teweeg te bring. Oor of die klimaat aan die verander is, ongeag die redes, is die debat nie so groot nie, en word nou meer gefokus op studies oor hoé klimaatverandering die omgewing verander, en hoe dit die mens en ander lewensvorme gaan affekteer.
Gister het die Amerikaanse USGS, wat ook ‘n verskeidenheid ekologiese kwessies bestudeer, ‘n belangrike mylpaal aangekondig. Die miljoenste waarneming deur een van 4 000 vrywilligers oor hoe klimaatverandering natuurgergedrag beïnvloed is pas in die VSA by die National Phenology Network gerapporteer. Dié persoon was Lucille Tower van Portland (foto).
Vroeër die dag het die USGS ‘n verklaring uitgereik om belangrike bevindings van die fenelogie-projek bekend te maak. Fenelogie is die studie van hoe klimaatveranderings die seisoenale siklusse van plante en diere beïnvloed.
Uit ondersoeke wat by verskillende waarnemingspunte in die noordelike halfrond gedoen is, blyk dit dat plante in die natuur en sonder manipulasie 4 keer vinniger blare, en agt keer vinniger bloeisels kry met elke graad wat dit warmer word, as wanneer dieselfde temperatuurveranderings kunsmatig bewerkstellig word.
Altesaam 1 600 plantspesies is hiervoor op vier kontinente gemonitor.
Fenelogie werk egter nie net met die planteryk nie, maar ook met die diereryk. In Nederland is al ‘n paar jaar gelde opgemerk dat seisoenale trekvoëls vroeër as in die verlede opdaag en begin broei. Dit beteken ook dat die plantjies en diertjies waarvan hulle leef, vroeër bedrywig is. In België skuif die lyn ten suide waarvan daar ‘n groter voorkoms van velkanker is elke jaar verder noord, en moet die hospitale wat hierdeur geraak word se begrotings aangepas word. Die impak is egter veel wyer – dit raak die hooikoorsseisoen, die seisoen vir veldbrande verander, indringerplante neem toe en vele meer.
Van 1950 af word temperatuurtoenames reeds in Suid-Afrika gemeet, en na verwagting sal die Vrystaat teen 2050 tussen twee en drie grade warmer wees as nou. Dit is beduidend, aangesien temperature slegs ‘n paar grade hoef te verander om ‘n ystydperk te veroorsaak. Op die hoogtepunt van die laaste ystydperk was die temperature in die trope maar sowat 4 grade laer as nou.
Verskeie vakgebiede het ontwikkel om klimaatsveranderinge in die verlede en die impak daarvan te ondersoek. Klimapaleontologie se studies neem hulle so ver terug as wat moontlik is. Klima-argeologie, waar klimaatsveranderinge op die menslike kultuurbedrywighede bestudeer word, ontwikkel baie vinnig. Onder die interessante voorbeelde is hoe die klein ystydperk sowat ‘n duisend jaar gelede die Noormanne se kolonisasie van Groenland beïnvloed het, en tot ‘n einde laat kom het. Destyds is tot graan verbou, en met die huidige klimaatsverandering, word weer ‘n wye verskeidenheid gewasse, waaronder aartappels verbou. Omstandighede het nou so verander dat Denemarke ‘n vorm van selfregering aan die Groenlanders kon toestaan.
In die Arabiese woestyn word nou satellietbeelde ingespan om ou rivierlope en mere te vind as terreine vir argeologiese opgrawings, sodat die impak van klimaatveranderings op mense baie lank gelede bestudeer kan word, en hoe, indien enigsins, by ‘n droër klimaat aangepas is. Lees gerus meer by http://herrie.maroelamedia.co.za/2012/05/02/ruimtetegnologie-om-argeologie-te-help/
Die USGS is ook aktief betrokke by die bestudering van klimaatsveranderings in Afrika. Die studie, wat deur die Famine Early Warning Systems Network (FEWS NET), gedoen word, fokus veral op droogtes en landbou, en bepaal prioriteite oor hoe hulp van $1,5 miljard jaarliks tussen 40 lande versprei moet word. Lees meer by http://www.fews.net/Pages/default.aspx.
Die USGS bring hulde aan gewone landsburgers wat bydra tot die ontwikkeling van die, soos dit genoem word, Nature Notebook. Uiteindelik gaan ‘n veel groter bydra van die aarde se miljarde inwoners nodig wees, want heelwat inligting is nog nodig vir die mensdom om sy planeet te kan bly bewoon.
En al dra menslike aktiwiteite ook min of selfs niks by tot die klimaatverandering nie, hy moet bly woon op ‘n planeet wat hy self besig is om te verwoes.
Opgestel vir MaroelaMedia
Herman Toerien