Subscribe by Email

Kleine Zalze laat SA vlag wapper op Concours de Mondial de Bruxelles

cheninblanc_0Die uitslae van die jaarlikse Concours Mondial de Bruxelles-toekennings is pas bekend gemaak en Suid-Afrika se staatmaker, Kleine Zalze, het die gesogte algehele prys vir die beste witwyn van die skou gewen. Die kompetisie reik ook spesiale toekennings uit aan wyne wat die hoogste punte in hul kategorie verwerf het. Dit is aan die Kleine Zalze Family Reserve Chenin Blanc 2013, tesame met ’n gesogte Grand- goue medalje, toegeken.

Net om te verseker dat die witwyne nie die kalklig steel nie, het Concours Mondial de Bruxelles ook ’n Grand- goue medalje aan Kleine Zalze se Family Reserve Cabernet Sauvignon 2010 én ’n goue medalje aan die Kleine Zalze Vineyard Selection Cabernet Sauvignon 2012 toegeken.

Meer as 8 000 wyne van 41 lande het in Brussels voor ’n uitgesoekte paneel van die wêreld se voorste sommeliers, wynkopers, invoerders, joernaliste en wynskrywers, meegeding. Concours Mondial bied aan verbruikers ’n betroubare koopgids. Vanjaar is ’n totaal van 2 330 medaljes toegeken, met minder as 1% van die 8 060 wedywerende wyne wat weggestap het met ’n Grand goud. Dit plaas Kleine Zalze se prestasie in perspektief.

Kobus Basson, eienaar en besturende direkteur van Kleine Zalze, beklemtoon volhoubaarheid as die wenformule: “Ons Chenin Blanc is deurlopend die ruggraat van die Kleine Zalze-handelsmerk. Ons is verheug dat Suid-Afrikaanse Chenin Blanc in ’n hoogs gerespekteerde en tradisionele wêreldforum erken word as top wyn. Dit is ’n groot erkenning vir ‘Trots Suid-Afrikaanse Chenin’!”

Die Family Reserve Chenin Blanc 2013 se druiwe kom van verskillende grondtipes (graniet, Oakleaf en Duplex). Ou bosstok-wingerde (40 jaar en ouer) en drie afsonderlike wyke in Stellenbosch het bygedra tot die kwaliteit vrugtevlakke en smaak- struktuur.

Die wynmaker, RJ Botha, voeg by: “’n Koel mikroklimaat om die druiwe het beteken daar was geen direkte son of botritis nie. Die hele idee en storie agter die wyn was om iets te skep wat nie te veel gehout was of te veel botritis-soetheid het nie. Die doel was ’n wyn van pure variëteit-vrugte wat deur subtiele houtgeure aangevul is. Die resultaat is ’n syagtige tekstuur met ’n struktuur wat elegansie behou.

“Die bosstokke is van kardinale belang, nie net oor hul ouderdom nie, maar omdat elke tros sy eie mikroklimaat het en dus ’n duidelike verskeidenheid geure in die finale wyn teweegbring.”

Kleine Zalze is langs die R44 tussen Somerset-Wes en Stellenbosch geleë. Vir meer nligting, kontak  Cathryn Henderson, handelsmerkbestuurder vir Kleine Zalze, by +27 (21) 880 0717 of CHenderson@kleinezalze.co.za,  of besoek www.kleinezalze.co.za.