Subscribe by Email

Klein landjie, gróót broer

Meer s 200 000 kameras hou die doen en late van Nederlanders dop, berig Trouw.

En dié getal kan veel hoër wees omdat sommige bedrywe nie by instansies aansluit wie se syfers oor hoeveel loerkameras opgestel is, bekend is nie.

Nederland is ook die land met die meeste “flitspale” tot verhouding van sy bevolking – daai kameras wat verkeersoortreders later ‘n boetekaartjie oor die pos besorg. Trouens, dié stelsel is so volledig dat Nederland goed gebruik kan word om patrone van verkeersongelukke te bepaal aan die hand van hoeveel flitspaal-boetes oortreders kry.

Maar dis nie net die groot broer van verkeer wat die net, soos die Bybel skryf, span om die ellendeling te vang nie.

Munisipaliteite, provinsies en polisiekontingente het saam 2 700 kamers wat op die loer is. Die owerhede wat na verkeer op waterweë en die groot paaie let, het ook 2 700 kameras, en op die lughawe, Schiphol alleen hang 1 400 kameras. Die verskillende verkeersowerhede het 18 000 kameras op die loer.

Privaat ondernemings het kameras op 180 000 plekke, maar op sommige van dié plekke mag meer as een kamera waak hou.

Nie al die kameras word gebruik om kwaaddoeners vas te trek nie. Veral sommige verkeerskameras monitor verkeersvolumes sodat verkeersknope voorkom of bestuur kon word. Die media het die afgelope winter oor verskeie enorme verkeersknope in Nederland en België berig.

Herman Toerien