Subscribe by Email

Klein klipseël van Simson gevind

Argeoloë wat in die heuwels van Judea naby Jerusalem opgrawings doen, het op ‘n klein klipseël afgekom wat ‘n man uitbeeld wat met ‘n groot dier met ‘n katagtige stert slaags is.

Die seëltjie van minder as 2,5 cm in deursnee, is naby die oewer van die Sorekrivier gevind wat die grens tussen die Israeliete en die Filistyne was. Dit dateer uit ongeveer 1200 vC wat met die tydperk van die rigters saamgeval het.

Argeoloë verskil van mekaar oor of Simson ‘n werklike persoon, en veral ‘n rigter van Israel was. Simson se lewenswyse en optrede soos in die Bybel beskryf, pas nie by die ander rigters se voorbeeld nie. Boonop het omringende volke soortgelyke verhale gehad van ‘n Herakles-tipe persoon, en die vasbind van fakkels aan jakkalse se sterte kom ook algemeen voor. Daar word selfs beweer dat Simson se stam, Dan nouer aan die Filistyne as aan die Israeliete verbind was.

Hoewel die vonds van die klipseël die debat oor Simson se werklike bestaan opnuut sal laat ontbrand, is die seël self nie genoegsame buite-Bybelse bewys vir enige teorie nie. Dit kan juis as stawing beskou word dat die mitologiese verhaal genoegsaam morfologies in die oorleweringe gestalte gekry het.

Israelse argeoloë wys egter daarop die spesifieke plek van die vonds en die ouderdom daarvan nie onbeduidend is nie vir die stawing van Simson as werklike persoon.

http://www.telegraph.co.uk/news/worldnews/middleeast/israel/9438668/Israeli-scholars-claim-possible-evidence-of-Samson.html en

http://en.wikipedia.org/wiki/Samson

 

 

Herman Toerien