Subscribe by Email

Kersfees: Die viering, reg of verkeerd

“Hêppie, hêppie!”

Dis nog nie Kersfees nie, maar die “feestyd” is wel deeglik in st lyf in, en waarvan in die lyf in is, loop die tandelose mond van oor.

“Hoe lykit met ‘n pasellatjie da..?”

Voor daardie dag het ek die man nog nooit gesien nie, en daarna ook nie weer nie, maar die lekkerlyf en die drang na nog het die voete vlerke gegee en hy het woonbuurtes ingevaar om te gaan verduidelik hy is dors – nie vuil nie.

Jare gelede het ‘n kollega by Volksblad, toe nog Dié Volksblad, sy mond in ‘n rubriek uitgespoel oor die doerrrietydse SAUK almal so ‘n gelukkige “feesseisoen” toegewens het.

Al seisoene wat hy ken, het hy vererg geskryf, is somer, herfs, winter en lente.

Deesdae is die TV-advertensies en ander gemorspos wat in die posbusse gedruk word vol van die Amerikaanse onding, “Hêppie hôliedys.”

Dié uitdrukking is geskep vir ‘n sekulêre samelewing waar nie-Christene glo aanstoot neem as hulle ‘n geseënde Kersfees, of nog beter, ‘n geseënde Christusfees toegewens word. Toe raak “A merry Christmas” politiek inkorrek, en kom dié ding. Dit het daar begin oorwaai, maar nou hier kom nesskop.

Maar miskien is dit goed, want ‘n mens wonder hoeveel van die mense agter daardie advertensies het enige saak met ‘n Christusfees – die herdenking van Jesus se geboorte en die boodskap van vrede wat daarmee gepaard gegaan het soos die engele aan die herders in die veld aangekondig het.

Hulle maak geld uit Kersfees.

Natuurlik is daar ‘n teenreaksie hierop – Christene wat begin dieper dink en soms ook die dam onder die eend uitruk. Geen Kersboom nie, want dis “heidens”, geen uitgelate vreugde nie want dis eintlik gewy. Geen Kersvader nie, want dis toordery. En die oordadigheid waarmee die ete gepaard gaan, gaan nie goed af nie, en die ene waarmee ek volmondig saamstem, die gesuipery moet ‘n gruwel in die oë van die Here wees.

En buitendien, elke dag van die jaar moet eintlik ‘n Christusfees wees.

Om sake te kompliseer, is dit bykans seker dat Kersfees nie op Christus se geboorteherdenking gevier word nie. Die herders was in die veld – iets wat onwaarskynlik was in die Heilige land waar dit toe bitter na aan die middel van die winter was. Die keuse van die 25ste Desember is bykans seker ook van heidense oorsprong – wat verband hou met verskeie heidense volke se viering van die midwinter (al is dit ‘n paar dae laat).

Maar …Jesus het ook gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom…”

Hoeveel van ons se Christenskap het nie beslag gekry deur die vreugde wat Kersfees in ons kleintyd gebring het nie? Ja, daar was ‘n klomp insette wat moeilik met die geleentheid geassosieer kon word, maar daar was ook talle insette wat die Christelike karakter daarvan beklemtoon het – Bybellees, mededeelsaamheid, vra na mekaar se welstand…CSV-opvoerings van die Kersspel.

Vreugde in geloof.

Kan dit ‘n kind werklik ontneem word? Ons jongste, 18, is outisties en rig elke jaar nougeset op 1 Desember ons Kersboompie op, en begin die dae aftel.

Die uwe was so amper 7 jaar oud toe ons skip in New York anker gegooi het, en ‘n dag of wat later was ons in Syracuse, doer in die noorde van die VSA. Twee wit Kersfeeste sou ek belewe. En as ons gedink het Kersfees hier het die kleingoed op hol gehad, dis niks in vergelyking met die klein Yanks nie.

So meegevoer was ek, dat waar ek al ‘n paar jaar lank nie meer in Kersvader geglo het nie, ek gou weer oortuig was van die ou man met die baard se bestaan. Nugter weet tot watter ouderdom die kinders daar nog in Kersvader glo. Maar ter versagting .. alles werk saam. Die sneeu, tradisies, en maak nie saak waar nie, iewers beier die musiek: “Jingle bells, jingle bells..”

En dis ‘n deurmekaarspul van tradisies, want die Yanks stam van ‘n bonte verskeidenheid Kers-tradisies af. Alles word min of meer saamgeklits. Father Christmas en Santa word sinoniem, Oukersaand kom bring Father Christmas geskenke wat hy soos hier uit ‘n sak uitdeel, en iewers hier na middernag kom Santa en klouter deur die skoorsteen en sit weer presente in die Kerskouse wat aan die beddens se voetenente hang.

En daar is min kinders wat nie al Kersvader se takbokke se name ken nie.

So by terugskoue kan ek nie onthou of enige van die populêre musiek in die winkels met Kerstyd enige Christelike inhoud gehad het nie.

Hier weer, was die Christelike inslag van die liedere in die winkelsentrums oor die algemeen onlosmaaklik – Stille nag, Heilige nag, en soveel meer.

Skaars terug in Suid-Afrika slaan die nugterheid my weer dat daar inderdaad geen regte Kersvader is nie. My kliniese afleiding was dat Kersvader g’n genoeg plek op sy slee sou hê vir Kersgeskenke vir die hele wêreld nie.

Ook nie vir die uitsonderings wat met Sinterklaas en sy koets grootgemaak is nie.

Trouens, dit was so hitte titte of ek en ‘n seun so blok van ons huis was in ‘n vuisgeveg betrokke. Hy was nog lank nie gereed om van Kersvader af te sien nie.

Kersvader was van ek verstand gekry het ‘n instelling – destyds daar in die kothuis by die Bakke.

Tannie SC het die kuns vervolmaak om by die treinspoor vir Kersvader te gaan roep deur vir hom te fluit. Dus is Kersvader tydig en ontydig “ontbied” – en so hartseer soos dit mag wees, was Kersvader al weer vort voor tannie SC van die treinspoor af teruggekom het. Nie eens die keer toe ek merk Kersvader het rooi hare onder sy spierwit grys hare, het ek snuf in die neus gekry nie. tannie SC was ‘n rooikop.

By geleentheid ontwikkel ek ‘n behoefte aan ‘n spesifieke geskenk wat ek wil hê, en tannie SC is horende doof om Kersvader te gaan roep. Ook die ander huismense is te aan die skarrel vir Kersfees om my na Kersvader te neem, waar hy in Mosselbaai op ‘n winkelstoep sy klok gestaan en lui, en geselsies met die kinders aangeknoop het.

Dus vat ek die pad, met oom Rons-hulle se skippertje, Zoeloe, om self Kersvader te gaan opsoek.

Min wetende dat dit by die Bakke konsternasie afgegee het, en amper ‘n helikopter-soektog afgegee het. ‘n Familielid het my en Zoeloe, flink onderweg na Kersvader, gekry en ingelaai terug kothuis toe.

Van die jongeres was nog sterk oortuig van Kersvader se bestaan toe die tradisie noodgedwonge prysgegee moes word – oom Rons-hulle het ‘n dogtertjie ryker geword – en met die eerste besoek van Kersvader na sy verstand gekry het, het sy in vrees vir dié gedoente in trane uitgebars.

Eers jare later, met ons eie kinders, is Kersvader weer afgestof. Die uwe het ook sy sarsie Kersvaderdiens-gedoen.

En dis ‘n moeiliker werk as wat ‘n mens dink, veral solank van die kinders nog glo dis regtig Kersvader. Want soos die geskenke uit die sak gehaal en uitgedeel word, is daar van die ouer familie wat wil weet van wie af die geskenke kom. Sê Kersvader van wie, is sy “cover” geblaas, en dus moet die vraag deurlopende beantwoord word: “Van die Noordpool af.”

En daai antwoord wil kort-kort ‘n gevoelente afgee.

Nog ‘n moeilikheid is dat nie alle honde ewe gemaklik met Kersvader is nie. Pumba wil my opvreet as ek bloot ‘n hoed opsit, laat staan nog met ‘n Kersvader-gewaad in háár huis moet aandoen.

En ek het nog nie die voorreg gehad om ‘n Kersvaderbaard te hê wat nie wou-wou afval of minstens skeeftrek nie.

Die groot geheim is natuurlik om te verseker dat die Kersboodskap nie in die proses van vreugde en fantasie afgewater of verlore gaan nie.

‘n Te kliniese benadering gaan ook probleme skep:

– Ons weet nie wanneer Christus werklik gebore is nie. Trouens, ons weet dit moes reeds minstens in die jaar 4 vC gewees het toe Herodus oorlede is.

– Ons kan dan ook nie sê en sing dat die Engele gesing het toe hulle die boodskap aan die herders gebring het nie. Daar staan nie in die Bybel dat hulle gesing het nie.

Die Christenouer kan nie sy taak “delegeer” om die regte boodskap te bring nie – ook nie ten opsigte van die Paashaas en die tandemuis, of Klaasvakie nie. Gun die kind sy vreugde en ekstase, en bring JOU verantwoordelikheid om die regte Lig te verskaf.

Aan almal – ‘n geseënde Christusfees.

Herman Toerien

2 Responses to Kersfees: Die viering, reg of verkeerd

  1. Elize Rautenbach

    November 11, 2015 at 8:41 pm

    Dankie vir die be rig maar ongelukkig voel ek nie dieselfde ni. N kind moet reg geleer word oor wat die geboorte van Jesus is. N kind moet weet dat dit nie christenne is wat kersfees ingebring het ni. Dat kersfees elke dag moet wees om goed te doen aan die minder bevoorregtes en ni om geskenke aan mekaar te gee nie maar aan die wat nie n huis, voedsel of klere het ni. N kind moet ni op n dwaalspoor gebring word ni.

  2. Mattie Joubert

    Desember 8, 2014 at 7:26 pm

    Dankie vir die artikel. Ek is nogal moeg dat almal die duiwel in alles soek. Ek is ‘n Christen, ek is besig om iets te skryf oor Kersfees en het Google gebruik om te kyk waar die oorsprong van Kersvader is.