Subscribe by Email

Kernkrag-gestotter in Europa na Fukushima

Duitsland wil teen 2022 al sewentien sy kernkragsentrales gesluit hê. Die groot skrik van Fukushima speel klaarblyklik ‘n groot rol, maar die opkoms van die Groenes in Duitsland het dalk meer te make met die besluit as dat die groot skrik op gesonde verstand berus. Dit is ‘n verdere uitbreiding van die besluit onmiddellik na die ramp sewe van Duitsland se oudste kernkragsentrales te sluit.
Dit is nog onseker of Duitsland besonder baie vrae gaan vra as die land dalk elektrisiteit moet invoer, oor hoe dit opgewek is.
Intussen neig Nederland om in die teenoorgestelde rigting te beweeg. Juis in hierdie tyd moet die kabinet besin oor of dié land sy tweede kernkragsentrale gaan oprig. In ‘n onlangse lesing oor die Fukushima-ramp het prof. Matie Hoffman van die UV se departement Fisika verduidelik dat die kernkragsentrale-tegnologie baie verbeter het en veiliger is as dit wat by Fukushima gebruik is. Boonop is Fukushima ontwerp om aardbewings van daardie orde te weerstaan. Die probleem was dat die ontwerp vir ‘n tsunami van 7 meter voorsiening gemaak het, maar toe klap ‘n tsunami van 14 meter die kragsentrale.
Duitsland, anders as Nederland, het “voldoende” bedrae van etlike miljarde Euro’s jaarliks aan die ontwikkeling van groen-energietegnologie gespandeer. Maar selfs in Nederland word gereeld gelees van alternatiewe en skoon kragopwekkingsplanne, soos nog windparke, kragopwekking deur metaangas, die Anaconda-tegnologie vir die gebruikmaking van golfenergie en vele meer.
Prof. Hoffman wys byvoorbeeld op planne van Duiraw Siemens om in samewerking met andere reuse sonkragsentrales in die Sahara te bou wat in tot 20 persent van Europa se energiebehoeftes kan voorsien.
Dit is ook nie net ‘n kwessie van kernkragsentrales te sluit nie. Om dit heeltemal uit aksie te stel en veilig te maak, gaan Duitsland miljarde Euro’s uit die sak jaag. En oorkant die grens het die kernkragbewuste Franse soveel kernkragsentrales dat die proses onoomkeerbaar is.
Herman Toerien