Subscribe by Email

Kerkbode en Pomp word betrek in smeerveldtog oor pornografie

Die NG Kerk se amptelike koerant Kerkbode en die uitgewersmaatskappy Griffel Media word in ʼn anonieme smeerveldtog wat landwyd per e-pos versprei word daarvan beskuldig dat hulle pornografiese materiaal en kinderpornografie op hulle webwerwe adverteer.

Die skrywer van die e-pos wat haarself Anonieme, getraumatiseerde, geteisterde en vernederde vrou noem, vra dat afskrifte daarvan in gemeentes se kollektebordjies geplaas word want “God se eer is op die spel”.

Die NG Kerk se leiers word daarvan aangekla dat hulle hande gevou toekyk hoedat vroue in Suid Afrika tot in hulle diepste wese verneder en jong mense mislei word. Kerkbode en Griffel Media het die aantygings ten sterkste ontken. Tydskriftemaatskappy wat Kerkbode namens die NG Kerk uitgee se departementshoof, me Adri-Louise van Renen, sê sy is bewus van die e-pos-veldtog. Kerkbode word daarvan beskuldig dat hy “die pad byster is en dat die leierskap niks daaraan doen nie. Pomp se uitgewer, Hendrik Venter van Griffel Media, het aan Koerant.com gesê hy is ook bewus van die smeerveldtog.

Pomp 11 se jongste voorblad verlaag glo die vrou tot ’n verbruikersartikel. Griffel Media adverteer Christelike boeke op Kerkbode se webwerf. Wanneer besoekers op die advertensie klik neem dit hulle na Griffel Media se tuisblad wat ook die joernaaltydskrif Pomp uitgee en op hulle eie webwerf bemark. Venter sê dit is jammer dat Anonieme, getraumatiseerde, geteisterde en vernederde vrou nie die moeite gedoen het om haarself te vergewis van die simboliek van Pomp 11 se voorblad nie.

Dit is volledig te lees op Pomp se eie webblad by http://www.pomp.co.za. “Die naaktheid van die meisie simboliseer die emansipasie van die Afrikanervrou … ’n simbool van die durf, deursettingsvermoë en sterk karakter van die Afrikanervrou.” In die e-pos word ook geïnsinueer Kerkbode adverteer kinderpornografie. Een van die skakels na ʼn video oor tienerseksualiteit wat deur Bybel Media vervaardig is neem besoekers na You Tube waar Bybel Media se video gestoor word.

Die doel van die video is om met tieners oor seksualiteit en verstandige keuses te praat. Omdat die video oor seksvoorligting gaan, en “seks” een van die sleutelwoorde in die titel is, verskyn daar outomaties skakels na ander seksgerigte video’s langs die Bybel-Media-video op You Tube. Dit is ‘n You Tube-funksie wat vir alle materiaal geld wat daar geplaas word. Van Renen sê nóg Kerkbode nóg Bybel-Media het enige beheer oor hierdie video’s of skakels. “’n Mens sou dit kon vergelyk met die tydskrifrak in ’n boekwinkel waar dit kan gebeur dat ’n pornografiese tydskrif langs ’n Christelike tydskrif op die rak staan. Die uitgewer van die Christelike tydskrif kan nie kies watter tydskrif langs sy tydskrif op die rak geplaas word nie.”

Venter van Griffel media het op sy beurt gesê hy kan hom in sy wildste gedagtes hoegenaamd nie voorstel dat Kerkbode hulself enigsins sal ophou met kinderpornografie nie. “Die blote gedagte daaraan is belaglik,” het Venter gesê.

Pomp is tans in die drukproses maar kan reeds vooraf teen ‘n afslag prys by wyse van voorafbestelling op Boekblik bestel word.

7 Responses to Kerkbode en Pomp word betrek in smeerveldtog oor pornografie

  1. ROFL

    November 17, 2010 at 2:19 pm

    Los vir Jennie, sy’s maar stadig van begrip en begryp nie mooi waaroor die advertensie gaan nie.

  2. Suri de Waal

    November 17, 2010 at 11:33 am

    Suri

    @LOL

    Ag los vir Jennie uit, sy’s maar bietjie stadig van begrip miskien het sy nie mooi die inhoud van die pamflet verstaan nie.

  3. LOL

    November 16, 2010 at 1:03 pm

    @Jennie

    Los vir Julius uit met sy skoolwerk, gaan vra liewer jou geld terug!! Het jy afrikaans geslaag???

  4. Hef

    November 15, 2010 at 2:35 pm

    Solank hulle net die kinders van kondome ook leer is alles ok met my.

  5. Mellow

    November 15, 2010 at 2:29 pm

    Interesant dat die “skepper” van die epos , wat so grootbek is tog nie die “guts”het om dit onder haar eie naam te doen nie….

    Ja dis verbysterend as n mens alles lees wat mense in die naam van godsdiens doen…

    Kyk nou hoe lekker baklei die “gebreinspoeldes”…

  6. Jennie Liebenberg

    November 15, 2010 at 2:04 pm

    Wat gaan aan met die mense? Die skepper van hierdie smeerveldtog is dommer as ‘n Julius Kokkerot! Dalk het sy ook huotwerk gepluk op skool, dis waarom sy nie die inhoud van die tydskrif kan verstaan nie.

  7. Willem du Preez

    November 15, 2010 at 2:01 pm

    Ag nee hel, nie alweer ‘n sogenaamde christelike ketting epos nie. Ek dink dit is absurd dat mense hulle besig hou met sulke disinformasie. As ek Kerkbode en Griffel was, sou ek die anonieme skrywer laat opspoor en haar met die volle reg tussen die oë slaan. Ek wil nie veralgemeen nie, maar sogenaamde Christene is besig om al meer en meer hul naam met ‘n plank raak te bliksem.