Subscribe by Email

Kankerlyer sterf sonder medikasie

PRETORIA – ʼn Kankerlyer wie se pleidooi vir ʼn maatskaplike ongeskiktheidstoelaag op dowe ore geval het, het sonder die nodige medikasie gesterf nadat sy herhaaldelik tevergeefs by die owerhede om hulp aangeklop het.

‘n Week nadat Heila Rothman van Pretoria-Wes se vyfde aansoek om ʼn ongeskiktheidstoelaag afgekeur is, het sy gesterf. Sy moes die afgelope jaar 21 dae self, sterwend en rolstoelgebonde, in die rye van SASSA se kantoor in Pretoria staan om aansoek te doen vir ʼn toelaag. Haar vyfde aansoek is op 6 Maart afgekeur.

Die rede waarom al die aansoeke afgekeur is as “for other reasons” op die dokument aangeteken. Na afloop van Rothman se laaste aansoek het SASSA (South African Social Security Agency) se mediese dokter selfs aangevoer dat sy geskik is om te werk, ten spyte van haar uiters verswakte toestand.

Rothman het die afgelope jaar in Uncle Ben’s Den, ‘n versorgingsoord in Hermanstad, Pretoria-Wes gebly.

Solidariteit Helpende Hand sê nadat SASSA die administrasie van maatskaplike toelae by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in 2006 oorgeneem het, word die toegang tot geskiktheidstoelae steeds belemmer weens onbekwame administrateurs.

Solidariteit Helpende Hand het ʼn dringende beroep op die regering gedoen om in te gryp na die afsterwe van Rothman.

“Ek het haar herhaaldelik SASSA toe gevat waar ons van 6:00 tot 17:00 in rye moes wag sonder enige sukses,” sê Ronel van Dyk van Uncle Ben’s Den. “In hierdie tydperk moes ons haar dikwels badkamer toe neem. Heila kon niks inhou nie. Haar liggaam was toe reeds verteer van die kanker,” voeg Van Dyk by.

Sonder dié maandelikse inkomste kon Rothman glad nie medikasie bekostig om die kanker waarmee sy jare gelede mee gediagnoseer is, te behandel nie. Voor haar aftrede was Rothman werksaam by die Suid-Afrikaanse polisiediens.

Uncle Ben’s Den is tans besig om drie bejaardes in soortgelyke situasies te help. Tannie Rina Vrey (78) se ouderdomspensioen is reeds twee keer afgekeur. Volgens SASSA het haar lêer na die laaste aansoek verdwyn en met sy van voor af met die aansoekproses begin.

“Hulle mors met my,” sê Vrey in trane. “Ek is oud. Ek het nie die krag om vir dae lank in ‘n ry te gaan staan om aansoek te doen nie. Hulle wil my nie help nie,” sê sy. Vrey kry geen finansiële hulp van haar kinders nie. “Ek kan niks vir myself koop nie en is totaal afhandklik van aalmoese,” sê sy hartseer.

SASSA se leuse is “paying the right social grant, to the right person, at the right time. Njalo!”

“Die regering moet drastiese stappe neem om weerlose Suid-Afrikaners die wanpraktyke van die instansie te beskerm. Dit is onaanvaarbaar dat weerloses moet ly as gevolg van onbekwame administrasie by SASSA en ‘n onvermoë om die situasie aan te spreek,” sê dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.

“Dit nadat SASSA voorgehou is as ‘n oplossing vir die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se onbekwaamheid ,” voeg dr. Langner by.