Subscribe by Email

Kan die Cheetahs teen die Reds ook so maak?

Gaan die Cheetahondersteuners Saterdagoggend oor hul span se vertoning Doer Onder in die vroegoggendse skemerte in die duister tas, gaan hulle rooi Reds sien of jolyt hou?
Met ander woorde: Was die oorwinning oor die Waratahs ‘n poks, of kan dié vertoning herhaal word?
Jare gelede het ‘n Springbok-gelaaide WP-span in ‘n wegwedstryd teen die destydse melkkoeie, Suidoos-Transvaal loop vasval. Vir beide spanne was dit ‘n reuse uitsondering op die reël, maar sulke dinge gebeur nie net in krieket dat Dawid Goliat plattrek nie, dit gebeur soms ook in rugby. Soms.
Maar dis byna altyd omdat die sterker span die opponente onderskat het, en nie genoeg voorsorg getref het dat die knieë lam word nie.
Om na die statistieke te kyk of die Cheetahs ook die Reds kan pootjie, is niksseggend. Die Reds is teoreties beter as die Tahs daaraan toe op die punteleer, maar dit is hoofsaaklik oor die aapstert by die Cheetahs dat die Waratahs se vertoningslys so ‘n knou weg het.
Omtrent al wat van die statistieke afgelei kan word, is dat Reds meer punte lek as die Tahs. Hul opponente het al 78 punte teen die Rooies opgestapel, terwyl die Tahs, die neerlaag teen die Cheetahs ten spyte, nog net 62 punte gelek het. Maar die Reds het ook al meer punte in die reeks aangeteken as die Waratahs. Die uitdaging is dus daar vir die Cheetahs om aanvallend te speel en ook gate in die verdediging te slaan.
Om te wen, sal die Cheetahs indien enigsins moontlik, nog beter as ‘n week gelede moet verdedig. Word dit gedoen, en die Cheetahs kry ook hul aanvallende spel op peil, is vier drieë seker nie buite die kwessie nie.
Daar is egter een belangrike verskil teenoor ‘n week gelede: Die Reds is wawyd wakker geskud deur die Cheetahvertoning teen hul buurmanne. Van die besoekers onderskat, gaan daar nie sprake wees nie. Die Cheetahs kan maar vergeet van ‘n poks-uitslag. Hulle sal die Reds eenvoudig genoegsaam moet troef, en dit gaan nie die maklikste werkie onder die son wees nie.
‘n Mens kry behoorlik koue spookrillings langs die rugstring af as Hawies Fourie, agterlynafrigter, sê Tewis de Bruyn is ‘n beter (taktiese) skopper as Sarel Pretorius. Nie baie Cheetahondersteuners sal hiermee saamstem nie, omdat gewoon van hierdie “taktiese” skoppe bykomende aanvalsgeleenthede aan die opponente bied, en al verskeie kere agter die Cheetahdoellyn afgerond is. Met Sias Ebersohn wat nou sy voete in groot rugby begin vind – los maar die skopwerk, vir wanneer dit aangewese is, vir die spelskeppers. Sonder die bal kan sy eie agterlyn immers nie aanval nie.
Die besering van Frans Viljoen, sterk losvoorspeler vir die Cheetahs, is ‘n groot terugslag. Min voorspelers dryf so kragtig oor die voordeellyn, en laat die verdedigende span so oorhoops soos wat Viljoen kan doen. Gelukkig kon die Cheetahkeurders anderkant die Diamantgrens ‘n Springbok gaan haal, Devon Raubenheimer. Of die keurders nou gefouteer het deur weer drie agterspelers in plaas van net twee op die plaasvervangerbank te kies, sal die tyd leer. Oorsee is dit dalk belangriker om te sorg dat die oond die volle tagtig minute voluit vuur spoeg.
Die Cheetahs sal die slapies aftel vir wanneer van hul beseerde sterre weer voluit kan saam jag. – Herman Toerien