Subscribe by Email

Kaliforniese droogte

california

SAN FRANCISCO (Reuters) – Kalifornië se katastrofiese droogte het waarskynlik vererger deur mensgemaakte klimaatsverandering en tensy die reën gou kom, stuur Kalifornië en ander dele in die suidweste van die VSA op die ergste droogte in 500 jaar af, en ‘n noodtoestand is reeds aangekondig.

Dekades lank het veeboere van die ooste hulle vee na Kalifornië geneem, waar die matige winters en sappige, natuurlike weiding die ideale toestande geskep het om hul beeste se kondisie te verhoog.

Maar dit is nie meer die geval nie. Midde-in een van die ergste droogtes wat Kalifornië in dekades getref het, het die gras verdor en die waterspruite het opgedroog. Veeboere in die Goue Staat laai nou hulle verse en jong osse op trokke en karwei hulle ooswaarts na Nevada, Texas, Nebraska en verder aan.

Petro Bosman skryf soos volg:

Die geweldige droogte wat alle rekords oortref, is vanjaar die dryfkrag agter Kaliforniërs se pogings om hidrobreking in dié staat te verhoed. Die argument is dat die produksie van olie talle plase en huise van broodnodige watervoorraad sal beroof.

’n Wetsontwerp is op die tafel om ‘n moratorium op hidrobreking in dié staat te plaas, en die droogte, wat dalk die ergste nóg in die staat kan wees, moet die argument ondersteun. Volgens Marc Levine, lid van die wetgewende vergadering in Kalifornië, moet hulle besluit wat hul kosbaarste kommoditeit is – water of olie. “Vanjaar sal ons ten gunste van water moet besluit.”

Hidrobreking, wat tot ’n kragtige energie-oplewing in Amerika gelei het, gebruik water wat hulle nie het om te spaar nie, beaam Dan Johnson, wetgewende direkteur van die omgewingsdrukgroep Environment California. Tydens hidrobreking word sekere chemikalieë en water onder druk onder die grond ingespuit om gesteentes op te breek wat tot die vrystelling van olie en natuurlike gasse lei. Teenstanders het redeneer veral dat die proses ondergrondse drinkwater kan besoedel en dat die fossielbrandstof wat geproduseer word, klimaatsverandering sal versnel.

Geen grootskaalse hidrobreking vind nou in Kalifornië plaas nie, en dit is nog onduidelik hoeveel water die oliebedryf vir elke boorgat gebruik. Volgens die plaaslike department van natuurbewaring het die hele bedryf in 2013 soveel water as 300 huishoudings gebruik.

Die andersoortige geologie van die oostelike gedeelte van Amerika maak dit moontlik om horisontale boorgate myle ondergronds te sink. Dit vereis miljoene gellings water gedurende ’n enkele hidrobrekingtaak wat dae of weke kan duur.

Minder water gebruik
In Kalifornië word minder water gedurende hidrobreking verbruik, aldus ’n direkteur van ‘n oliegroep. Volgens hom is olieprodusente baie sensitief vir die mededingende eise wat aan waterbronne gestel word, en hulle is bereid om enige aanpassings te maak om by die droogtetoestande aan te pas.

Maar omgewingsgesindes meen syfers van die staat berus op vrywillige voorleggings en dit word nie nagesien nie. “Ons weet nie hoeveel water hidrobreking al gebruik het of gaan gebruik nie,” s? Zack Malitz van die progressiewe Credogroep in San Francisco.