Subscribe by Email

Jongste oorsig van aardbewings

Vanuit ‘n Suid-Afrikaner se oogpunt beskou is die interessantste nuus seker dat daar op 21 Julie ‘n aardbewing van M5.2 in Zambië plaasgevind het. Dié aardbewing was klaarblyklik geïsoleerd aangesien geen aardbewings van sterker as M2.5 in die onlangse verlede in Afrika op kaart gebring is nie.
‘n Interessante verskynsel is dat aardbewings nou in ‘n boog van Japan deur Siberië, oa een by die Baikal-meer) na Pakistan voorkom. (Omdat die kaart slegs aardbewings van die afgelope week aantoon, is dit nie meer alles te sien nie). Een van hierdie aardbewings, in Oesbekistan, het dertien lewens geëis en heelwat skade is ook aangerig, al het dit maar M6.1 aangeteken.
Heelwat aardbewings van M6 of sterker kom nog in die omgewing voor waar die grote van M9 vroeër vanjaar by Japan soveel dood en verwoesting gesaai het.
Die areas waar die meeste aardbewings van M2,5 en sterker voorkom is egter die skiereiland en eilande van Alaska, die Weste van die VSA en die gebied noord van Nieu-Seeland. Daar is nou ook ‘n toename in betreklik ligte aardbewings aan die westekant van Sentraal- en Suid-Amerika.
Daar is ook ‘n sterk konsentrasie in die bek na die Karibiese See, in die omgewing waar die aardbewing ontstaan het wat soveel skade in Haïti aangerig het.
Aardbewings oos van New Foundland is ‘n bietjie interessanter as die sterkte daarvan. In 1929 het ‘n aardbewing van M7.3 hier ‘n ondersese grondverskuiwing tot gevolg gehad, en ‘n tsunami van tussen 2 en 7 meter veroorsaak wat die Amerikaanse ooskus getref het. Die sg Grand Banks se hellings is baie onstabiel.
Nog ‘n interessantheid is dat is ‘n aardbewing naby Antarktika voorgekom het in ‘n lyn tussen die Kermadec-eilande wat nou baie aktief is, en wat oor Nieu-Seeland na Antarktika strek.
Herman Toerien