Subscribe by Email

Jong Blikore in Proteagroep

Twee onegkroonde Blikore kry kans om hul beste voetjie voor te sit om ook in aanmerking te kom om die Proteas op die krieketveld te verteenwoordig.

Rilee Rossouw en Dean Elgar klop nou al ‘n ruk hard aan die deur, en het al alles met veral die wilgerlat vermag behalwe om gekies te word. Elgar is ook heel bedrewe met die bal in die hand.

Die groep van 28 spelers wat deur die nuwe breier, Gary Kirsten byeengeroep word, toon duidelik dat daar ‘n groter openheid is om jong uitblinkers nader te trek wanneer hulle op vorm is. Senior spelers wat te veel krap en karring kan dalk binnekort met die hoed in die hand staan – eers in kitskrieket en daarna in die toetsspan ook.

Altesaam drie spelers wat nog nie vir die Proteas gespeel het nie is nadergeroep. Die snelbouler Craig Alexander sal die Blikore vergesel.

‘n Speler wat ‘n rits goeie vertonings ingeryg het en nou weer raakgesien word is Jacques Rudolf.

Dit is jammer dat die jong Obus Pienaar wat skitterend met bal en kolf op stryk is, nog nie ingesluit is nie. Dié speler is tans bestendig genoeg met sy mokerwerk dat hy die Proteas twee uit die drie keer op die wenpad kan plaas as die senior spelers die span weer in ‘n kitswedstryd in ‘n groef in kolf.

Onder die senior spelers wat weer kans kry, tel Albie Morkel wat na sy weglating vir die keurders ‘n bitter lang tong met skitter-kolfwerk uitgesteek het, Loots Bosman, Ryana McLaren, Ashwil Pricnce en Roelof van der Merwe wat ‘n in-en-uit-geskiedenis met die keurders het.

Die groep wat nou sal saamtrek is:

Graeme Smith (Nashua Mobile Cape Cobras), Craig Alexander (bizhub Highveld Lions), Hashim Amla (Sunfoil Dolphins), Loots Bosman (Sunfoil Dolphins), Johan Botha (Chevrolet Warriors), Mark Boucher (Nashua Mobile Cape Cobras), AB de Villiers (Nashua Titans), JP Duminy (Nashua Mobile Cape Cobras), Faf du Plessis (Nashua Titans), Dean Elgar (Chevrolet Knights), Paul Harris (Nashua Titans), Colin Ingram (Chevrolet Warriors), Jacques Kallis (Nashua Mobile Cape Cobras), Heino Kuhn (Nashua Titans), Ryan McLaren (Chevrolet Knights), David Miller (Sunfoil Dolphins), Albie Morkel (Nashua Titans), Morne Morkel (Nashua Titans), Robbie Peterson (Nashua Mobile Cape Cobras), Vernon Philander (Nashua Mobile Cape Cobras), Ashwell Prince (Chevrolet Warriors), Rilee Rossouw (Chevrolet Knights), Jacques Rudolph (Nashua Titans), Dale Steyn (Nashua Mobile Cape Cobras), Rusty Theron (Chevrolet Warriors), Lonwabo Tsotsobe (Chevrolet Warriors), Roelof van der Merwe (Nashua Titans), Vaughn van Jaarsveld (Sunfoil Dolphins).
– Herman Toerien