Subscribe by Email

Johan Goosen – Is hy te jonk losgelaat?

Superrugby is baie hard, amper toetsrugby. So vertel elke speler wat ‘n proesel daarvan gekry het.

Nou is Johan Goosen, wat as 19-jarige die land gaande het met sy losskakelspel, beseer. Dit is sy tweede skouerbesering kort na mekaar, en nou is hy vier maande van die veld af. In Bloemfontein hang die vlae by wyse van spreke halfmas, want moeilike tye word nou voorsien vir die Cheetahs en hul aanslag om Super-status te behou.

Die nuus dat hy vier maande buite aksie gaan wees het dieselfde dag gekom as wat al drie Rapport se “keurders” Goosen as hul eerstekeuse-losskakel vir die Springbokspan “gekies” het.

In baie opsigte kan Goosen as die kombinasie van twee ander bekende Springboklosskkels beskou word wat jonk reeds die rugbywêreld aan die gons gehad het, Jannie Barnard en Naas Botha.

Die ouer garde sal die kop skud en sê daar was nie nog ‘n Jannie Barnard wat op losskakel so kon aftrap as dié man wat op 18-jarige reeds in senior rugby sy teenstanders dronk gepypkam het, en twee jaar later Springbok geword het nie.

Naas Botha het as 19-jarige Loftus gaande gehad met sy veelsydige losskakelspel.

Die Naas-manne sal sê Goosen is as stelskopper moontlik selfs Naas se meerdere, maar as vernietigende taktiese skopper en skepskopper moet Goosen nog inhaal. Nie dat Goosen nie kán skepskop nie – hy het immers al die toeskouers na hul asem lat snak deur skepskoppe van sestig meter en verder deur die mikke te jag – maar in Super Rugby bied die Cheetahs se voorhoede nie heeltemal die platform vir die meer konvensionele skepskoppe soos wat Naas se Bloubul-voorhoede in Curriebekrrugby kon bied nie. Maar lank nie alle Naas-skepskoppe was uit beskermde posisies nie.

Beide Jannie en Naas is dikwels openlik geteiken, en in ‘n artikel word ‘n ongenoemde Springbokflank aangehaal waar hy gespog het dat hy al baie losskakels van die veld afgehaal het, en so ook met die 18-jarige Barnard sou maak. Toe nou nie. Barnard het die Springbok se gekombineerde Weermagspan dronk gehardloop.

Naas is ook geteiken, in spel en daarbuite. In ‘n wedstryd teen die Vrystaat het Goggie van Heerden losskakel teen Naas gespeel, en met die bal in hand oor Naas gehardloop. Na die wedstryd het Goggie verduidelik dat Naas se reputasie op die verdediging “swak” was en hy het besluit om dit uit te buit. Goggie het egter ‘n strafskop vir gevaarlike spel afgestaan en Naas wat oomblikke tevore nog katswink was, het die bal deur die mikke gesool.

In nog ‘n bekende geval het Naas die Vrystaatse skrumskakel, Christo Ferreira ‘n opstopper gegee, waarop Jannie Els vir Naas planke toe gestuur het. Weer het Naas opgestaan en die bal deur die mikke gejaag.

Freddie Turner, wat gewoonlik vleuel en heelagter gespeel het, het in 1933 op 19-jarige ouderdom Springbok geword, en ook ‘n paar keer met die skoen punte aangeteken. Frans Steyn, wat ook as losskakel kan diens doen, was sedertdien die jongste toe hy die Springboktrui in 2006 die eerste keer oor sy kop getrek het. Steyn, soos Turner, word rondgeskuif en het net soos Goosen, die vermoë om skoppe van meer as 60 meter oor te klits. Steyn, wat 1,91 meter lank is en 110 kg weeg, is egter ook geneig om beserings op te doen.

Die vraag of Goosen te jonk losgelaat is, is ‘n akademiese vraag. Dit is onmoontlik om ‘n beroepspeler nou met ‘n speler van vroeër te vergelyk, toe toetse amper so skaars soos hoendertande was, maar die destydse reëls ook baie minder beskerming teen beserings gebied het.

Wat die lesse van toet wel leer, is dat dit wat in die jong speler se kop aangaan, net so belangrik is as hoe sy liggaam die stampe verduur. ‘n Baie sterk gees is nodig, of nostalgiese herinneringe is al wat oorbly van ‘n opwindende jong speler se skitterspel wanneer hy eintlik eers rypheid moes bereik het.

Twee jaar na Jannie Barnard Springbok geword het, het Piet Visagie die Springboktrui oor die skouers getrek. En maak nie saak hoe die rugbypubliek na Jannie se opwindende spel gesmag het nie, Piet, wat eintlik as skoppende losskakel bekend was, was so ingemessel in die Springbokspan dat selfs die opwindende Dawie Snyman, wat Springbok geword het voor hy die WP-span kon haal, sy spore in ander posisies, veral heelagter, moes slyp.

Herman Toerien