Subscribe by Email

Japan gebruik weer kernkrag

Die nommer 3-reaktor van die kernkragsentrale by Ohi is die week weer in bedryf gestel, wat ‘n einde gebring het aan twee maande wat Japan se elektrisiteit “kernvry” was.

Aan die einde van Mei is die laaste van 50 kernkragsentrales afgeskakel as nasleep van die Fukushimaramp, sodat almal eers deeglik vir veiligheid ondersoek kon word en versien kon word.

Die proses het Japan hard aan buitelandse reserwes geslaan omdat die land toe op ingevoerde fossielbrandstof aangewese was, en ook hoofsaaklik hiermee moes “oorwinter.”

In Mei was die land se handelstekort, grootliks weens die invoer van fossielbrandstof, $11,5 miljard, tien persent hoër as ‘n jaar tevore.

Die heraanskakeling kom op dieselfde dag as wat die Japannese regering die verslag van ‘n ondersoek na die Fukushimaramp bekendgemaak het. Volgens die verslag is die ramp nie net aan die aardbewing en tsunami te wyte nie, maar ook aan menslike foute. Die owerheid, toesighouers en die eienaar van die sentrale het ‘n gebrek aan verantwoordelikheid aan die dag gelê om menselewens en die samelewing te beskerm.

Die heraanskakeling van kernkrag kom te midde van groot proteste wat feitlik deurgaans in Japannese stede daarteen gehou word. Dit is ‘n emosionele kwessie in Japan.

In Junie is die eerste keer weer aan die kus van Fukushima visgevang. Die seekatte en seeslakke se bestralingsvlakke was negeerbaar klein, maar visse is nog nie geskik vir menslike gebruik nie omdat hulle te veel sesium bevat.

Foto: AP

 

Herman Toerien