Subscribe by Email

Jacob Zuma is nie bang om tronk toe te gaan nie

jzTen spyte van toenemende druk op Zuma om te bedank,  het hy ‘n ommeswaai in steun vir die ANC voorspel tydens ‘n politieke saamtrek by Dumbe in die noorde van KwaZulu-Natal. Druk bou ook op teen die ANC deur hulle eie kaders om dinge reg te kry. Hy het aan sy ondersteuners gesê die party sal die sleutelmetros terugneem wat hy in die munisipale verkiesings van 3 Augustus verloor het. Hy het die oorwinings van die opposisiepartye beskryf as ‘n geveg om krummels. Hy sê die ANC is steeds in beheer omdat hy die meeste wyke in die land gewen het.

Zuma het ook gesê hy is nie bang om tronk toe te gaan nie. Druk bou op om 783 bedrog- en korrupsieaanklagte teen die president weer in te stel na die bekendstelling van die openbare aanklaer se staatskapingsverslag wat die Gupta-familie by omkopery van senior regeringsamptenare betrek. President Zuma het by sy eerste openbare verskyning sedert die vrystelling van die verslag gesê hy is tydens die apartheidsjare opgesluit.

Die voormalige sekretaris-generaal van die vakverbond Cosatu, Jay Naidoo, sê hy is bekommerd oor die skynbare gebrek aan eerbare en sterk leierskap in Suid-Afrika. Naidoo het op die tweede gedenklesing van die ontslape vakbondleier, Billy Nair in Durban gesê die krisis in Suid-Afrika is die gevolg van ‘n leierskap wat voeling met die mense verloor het. Naidoo sê Suid-Afrika het etiese leiers nodig wat die land deur hierdie ontstuimige tyd kan stuur. Hy sê dit voel of die land egter teruggly na die loopgrawe van die verlede, omdat leiers nie meer na die mense luister nie. Naidoo sê wanneer mense nie na mekaar luister nie, loop dit uit op universiteite wat brand en ‘n land wat ten gronde gaan.

Vroeër het die ANC-veteraan en voormalige direkteur-generaal in die presidensie, eerwaarde Frank Chikane, ook die ANC-leierskap gewaarsku om terug te draai voordat dit te laat is. Chikane sê die regerende party moet sy probleme regstel en, soos hy dit stel, aan die regte kant van die geskiedenis kom. Dié veteraan van die anti-apartheid-stryd is een van minstens eenhonderd oudstryders wat op ‘n antwoord van president Jacob Zuma wag nadat hulle hom gevra het vir ‘n vergadering oor kommerwekkende kwessies oor die toestand van sowel die ANC as die land. Buiten Chikane sluit die groep onder andere Cheryl Carolus, Ahmed Kathrada, Mathew Mlangeni en Stella Sisulu in. Chikane sê hulle wil graag eenheid in die ANC sien, maar eenheid vir die party se waardes en nie eenheid om foute toe te smeer nie.