Subscribe by Email

Italiaanse wetenskaplikes oor aardbewing aangekla

Wetenskaplikes is onthuts oor ‘n verhoor wat vandag begin waarin ses Italiaanse geofisici vervolg word omdat hulle versuim het om die inwoners van die dorpie L’Aquilla vooraf oor die gevaar van ‘n komende aardbewing in te lig. Altesaam 309 mense is dood en sowat 120 000 geraak deur ‘n aardbewing van M 6.3 in April 2009. Dié aardbewing se episentrum was vlak – slegs sowat 8,8 kilometer onder die oppervlak, en 85 kilometer van Rome af.

Dié wetenskaplikes het opdrag by die regering gekry om die waarskynlikheid van ‘n groot aardbewing te bereken na die gebied oor ‘n lang tydperk deur sowat 400 ligte skuddings getref is. ‘n Week voor die skudding het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat die skuddings nie ‘n voorteken is van ‘n grote wat kom nie. Hulle het wel gepleit dat die bouvoorskrifte en ander reëls strenger gemaak moet word om die inwoners te beskerm. Nou staar hulle moontlike tronkstraf van 15 jaar in die gesig. Die naasbestaandes van slagoffers het ook aangedui dat hulle oorweeg om eise van 50 miljoen Euro’s gaan instel as die wetenskaplikes skuldig bevind word.

Kenners wat beswaar maak teen die verhoor wys daarop dat dit onmoontlik is om groot aardbewings akkuraat te voorspel. Die USGC se data van 2009 dui ook geen beduidende skuddings voor of na dié aardbewing in Italië aan nie.
Herman Toerien