Subscribe by Email

Is SA in donkerte vanaf volgende week?

Met die dreigende staking van Eskom werkers, het die volgende boonop aan die lig gekom, volgens Solidariteit se webwerf.

Die vakbond Solidariteit het sy skok uitgespreek met syfers wat gister bekend gemaak is wat toon dat Eskom se uitvoerende komitee ‘n gemiddelde verhoging van 83% gekry het. Die verhogings wissel tussen 73% en 91%. Volgens Solidariteit sluit hierdie syfers uitbetalings op grond van prestasieaandele uit wat ook met 89% meer gestyg het as waarvoor in die 2009 finansiële state voorsien is.

 

Solidariteit het Eskom geleentheid gegee om Maandag terugvoer te gee op wysigings wat Solidariteit op die Eskom aanbod voorgestel het. Volgens Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, kan daar nie meer, in die lig van hierdie syfers, gewag word tot Maandag nie en doen ons ‘n beroep op alle partye vir noodonderhandeling die naweek. Die spanning is nou so hoog dat die partye hierdie naweek ‘n skikking moet bereik.

Die verhogings van die uitvoerende komitee is nie as gevolg van nuwe poste nie, maar is binne bestaande poste. Indien die prestasieaandele uitbetalings bygevoeg word het van die uitvoerende komitee lede, die uitvoerende hoof uitgesluit, byna R7 miljoen ontvang. Die prestasie aandele is gegrond op die langtermyn prestasie van die maatskappye en is gekoppel aan prestasiedoelwitte wat insluit die finansiële prestasie, volhoubaarheid en reputasie van Eskom.

“Indien swak presteer word kan minder uitbetaal word as wat voorsien is, maar volgens Eskom het sy uitvoerende komitee so goed presteer dat 89% meer uitbetaal is as wat voorsien is,” het Buys gesê.

“Die prestasie van Eskom is nie as gevolg van besondere strategiese vermoë van die topbestuur die afgelope drie jaar nie, maar as gevolg van gewone werkers wat die netwerk in stand gehou het, ten spyte van die topbestuur en die publiek wat moet hoes met hoë verhogings.

Solidariteit is as verantwoordelike vakbond die hele tyd verbind tot ‘n onderhandelde skikking, maar die bekendmaking van die skokkende syfers oor Eskom topbestuur se salarisverhogings maak ‘n onderhandelde skikking byna onmoontlik. Eskom topbestuur het geen geloofwaardigheid om te dreig om Eskom werkers toe te sluit as hulle dreig om te staak indien die topbestuur vir hulleself byna 10 keer groter verhogings toeken as vir die werknemers nie,” sê Buys.