Subscribe by Email

Is piesangrepublieke binnekort die enigste soort piesangs oor?

Binnekort, so sinspeel ‘n artikelskrywer van Trouw, gaan die enigste piesangs piesangrepublieke wees.

Maar is die gevaar so groot?

Die probleem, volgens die verslag, is dat gevind is dat alle piesangs vandag, meer as 7 000 jaar na begin is om dit te verbou, geneties omtrent identies is – as’t ware klone.

Sou ‘n nuwe siekte muteer, of die klimaat verander, is die hele kaboedel oor die muur.

Maar is dit waar.

Ja en nee.

Daar is vandag steeds verskeie spesies piesang, nie almal eetbaar nie. Die meeste eetbare piesangs is variëteite van twee wilde spesies – die Musa acumnata en die Musa balbisiana of die verbastering daarvan af. Dit lyk of dit tussen tien en seweduisend jaar gelede in die teenswaardige Papua-Nieu-Guinee gedomestiseer is. Daar is geïsoleerde aanduidings dat ook elders domestikasie plaasgevind het, onder ander Kameroen. Dis nog onseker hoe Kameroen aan sy piesangs gekom het – plaaslike antieke vernuf, of kontak met die vroeë inwoners van Madagaskar wat uit Indonesië gekom het? Taalondersoeke het getoon dat die mense van Madagaskar eens, voor hulle weer daaraan blootgestel is, piesangs moes ken.

Van die piesangsoorte behoort selfs tot ander genusse.

Die vernaamste variëteit is die Cavendish, en meer spesifiek die dwerg-Cavendish vir uitvoerdoeleindes omdat dit makliker hanteer.

Verboude piesangs se saad is steriel, en voortplanting geskied gewoonlik deur risome, en twee uitlopers word gewoonlik toegelaat om te ontwikkel – een wat vrugte gou gaan dra, en een sowat ses maande later.

Die voordeel is dat daar nie ‘n behoefte aan saad in die vrugte is nie, waar die saad in elk geval tot weinig meer as vlekkies gereduseer is. Die nadeel is dat daar bitter min kans vir mutasies is wat nuwe variëteite en spesies tot stand kan laat kom.

Die nadeel hiervan word goed gedemonstreer deur die feit dat die Gros Mitchel-variëteit bykans volledig van die rakke verdwyn het, toe dit deur die gevreesde Panama-siekte gepak is. Klein hoeveelhede kom in hoofsaaklik geïsoleerde gebiede voor waar dié siekte dit nog nie uitgesnuffel het nie.

Op die oomblik lyk dit nie of lande wat piesangs invoer, sommer met leë rakke gaan sit nie. Bronne is baie seker daarvan dat die dwerg Cavendish en die Gran Nain nie bedreig word nie, maar as siektes dit pak kan daar tog tekorte op die uitvoermarkte ontstaan. Weens die Cavendish se gewildheid is dit onseker of die lekkerbekke sal smaak ontwikkel vir ander, bestaande kultivars, en daarom word al lank hard gewerk om deur hebridisering en genetiese manipulasie siekte-bestande, maar mark-aanvaarbare piesangs te kweek.

Herman Toerien