Subscribe by Email

Is dit die einde van onafhanklike reg in SA?

Groot ongelukkigheid heers in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oor die onbehoorlike herontplooing van senior staatsaanklaers deur adv. Menzi Simelane, hoof van die nasionale vervolgingsgesag.

Koerant.com het gaan kyk na wat het al die senior staatsaanklaers wat nou ewe skielik verplaas word na laer howe in gemeen, en tot ‘n gevolgtrekking gekom dat tot dusver het hulle almal iets te doen gehad met president Zuma se destydse vervolging, of met sake wat verband hou met Simelane self.

Dit laat die vraag opnuut weer ontstaan, oor hoe onafhanklik van politieke inmenging het ons regsbank in SA geword?

Hier is die feite:

Adv. Retha Meintjes, ’n adjunkdirekteur van openbare vervolging, het drie keer in hofsake van die konstitusionele hof vir die staat opgetree waarin Simelane (toe nog direkteur-generaal van justisie) verplig was om antwoorde aan die hof te gee. Simelane verplaas haar na ‘n laer hof in Mamelodi.

Mnr. André (Lampies) Lamprecht, hoofaanklaer aan die Wes-Rand word summier van sy bestuurspligte onthef, en herontplooi na ‘n gewone landdroshof. Dit kom nadat hy geweier het om ‘n mondelikse opdrag van Simelane om nie borgtog aan Jub Jub teen te staan nie, verontagsaam het, aangesien die staat verplig is om so ‘n borgtog aansoek teen te staan.

Groot ongelukkigheid heers ook oor die verplasing van adv. George Baloyi en ander bekendes in die NVG. Baloyi was lid van die vervolgingspan onder leiding van adv. Billy Downer SC, wat pres. Jacob Zuma destyds aangekla het weens beweerde korrupsie.

Adv. Mutuwa Nengovhela, ook ’n adjunkdirekteur van die NVG, is ook herontplooi. Hy was vroeër deel van die vervolgingspan wat Zuma aangekla het weens beweerde verkragting.

Volgens Simelane is die herontplooiing deel van ’n uitgebreide interne plan omdat transformasie in die NVG ook in die samestelling van rasdemografie en hernuwingsprosesse dringend noodsaaklik is.  Koerant.com sien egter ‘n ander patroon as gelet word op die tipe hoë profiel sake wat al hierdie herontplooide advokate by betrokke was.