Subscribe by Email

Is die rasseskoen nou aan die ander voet?

Die Instituut vir Rasseverhoudinge het pas ‘n klag vir rassisme teen die Direkteur van Openbare Vervolging, adv. Menzi Simelane, by die Menseregtekommissie ingedien. “Dit is ook ‘n feit dat in alle, indien nie die meeste van hierdie misdade nie, is swart mense die slagoffers Dit is ook ‘n feit dat die oortreders meestal wit mans is. Ons howe is vol van mense soos dié,” het hy in die Sunday Times geskryf.

Die persepsie loop skynbaar diep by baie swart mense dat baie blankes steeds rassiste is. Ongelukkig is daar insidente wat gou rugbaar word en tot groot, emosionele betogings by howe lei. Die Skierlik-skietery is dadelik ‘n relatief vars voorbeeld. In verskeie gevalle het aanvanklike hofuitsprake onder appèl effens anders daaruit gesien, waaronder die bekende leeukamp-insident en die meer onlangse Reitz-viervoorval. Die appèlregters het ook gesinspeel dat die aanvanklike voorsittende beamptes meer as net ‘n bietjie oorboord gegaan het.

Het die Suid-Afrikaanse rasseskoen werklik van voet verwissel?

Die laaste apartheidswetgewing, die wet waarvolgens mense op grond van ras geklassifiseer is, is vanjaar 20 jaar gelede afgeskaf. Ander omstrede wetgewing, soos die groepsgebiedewet, is ‘n paar jaar vroeër afgeskaf. Die rasgebaseerde wetgewing wat nou op die wetboek is, soos dié oor swart ekonomiese bemagtiging, is deur die nuwe bedeling op die wetboek geplaas. Verskeie regeringswoordvoerders het aangedui dat hulle (nog) niks wil hoor van ‘n sonsondergandklousule vir affirmative action nie. (Regstellende aksie is iets heel anders).

Daar word getwis of wit vroue, Chinese met Suid-Afrikaanse gebore ouers as bevoordeeldes of slagoffers van affirmative action beskou behoort te word. ‘n Rits organisasies soos die Black Lawyers Association, die Black Management Forum, die Black Journalist Association en ander bestaan.

‘n Trappie moet teruggegee word om ‘n paar perspektiewe te stel, veral aangesien daar deesdae weer heelwat bog rondom die laaste referendum en ja-stem geskryf word.

Ten tyde van die onderhandelings was apartheid as beleid en in wetgewing reeds iets van die verlede. By Kemptonpark is onderhandel, opgehou onderhandel, en weer onderhandel. Verskillende grondwetlike ideale is op die tafel geplaas. Ras, as norm, het nie werklik as faktor gedien nie, hoewel die huidige Vryheidsfront Plus se voorgangers dikwels dit teen die kop geslinger word, en soos klokslag deur dr. Pieter Mulder en ander ontken word.

Wat aan die orde was, was groepregte en minderheidsregte, wat goed in die internasionale reg vervat is, en in talle lande soos Indië, Nieu-Seeland, België, Spanje en ander se grondwette opgeneem. By die mees erkende volkeregtelike definisies is ras as norm vir volk uitgesluit, onder meer omdat volk ‘n vrywillige assosiasie behels. Die HAT sluit ras as norm pertinent uit.

Verlede jaar het een van Nasionale Pers se mees senior rubriekskrywers, wat ook ‘n lid van die personeel is, na die regering / Nasionale Party se onderhandelingspan onder die leiding van mnr. Roelf Meyer as die soveelste span se reserwes verwys. Hy is gou deur ‘n briefskrywer tereg gewys wat gemeld het dat alle besluite van die onderhandelingspan eers deur die Kabinet goedgekeur is, as sou almal ewe entoesiasties oor die uitkoms moes wees.

Die werklikheid is komplekser. Talle regeringsgebonde politici, soos die administrateurs, moes ook insette lewer. Uiteraard het hulle nie self die voorleggings gedoen nie, en is dit oorgelaat aan hul mees kundige personeel. Hierdie personeel het ook verwikkelinge in die media gevolg, onderling gekonsulteer (die internet en e-pos was toe nog nie wyd beskikbaar nie, en selfs om van amptelike rekenaars voorsien te wees, ‘n absolute rariteit). Die administrateurs het weer deurlopend met hul provinsiale partyleiers gekonsulteer om seker te maak dit wat aanbeveel word is in pas met die party-instruksies. Terminologie soos korporatiewe federalisme en konsosiatiewe selfbeskikking – erkende volkeregtelike begrippe, is mildelik genoem en in die voorleggings verreken.

En daardie instruksies het hemelsbreed verskil van die uiteindelike resultaat. Met die referendum wat tussenin gekom het, is die versekering aan die slegs wit kiesers gegee dat dit uitsluitlik handel oor of met onderhandelings voortgegaan moet word, nie oor die inhoud nie. Dit sou in ‘n volgende referendum getoets word.

Baie van die ja-stemmers het ja vir voortgesette onderhandelings gestem, gedagtig aan die inhoud van die inligting wat die kiesers in betreklike detail kon volg.

Die uiteindelike produk was gestroop van die grondwetlike maatreëls wat in die reël die grondwette van heterogene gemeenskappe, soos dié hierbo vermeld, gekenmerk het. Die rede wat vir die weglating gegee word is steeds dat dit rassisties sou wees, wat net so flink ontken word.

‘n Ketting is so sterk soos sy swakste skakel. Een boer wat sy werkers swak behandel, kan ‘n veldbrand-persepsie skep dat dit ‘n algemene ding is. Daardie swak skakels is in die wit gemeenskap aanwesig en sal noodwendig die persepsies van Simelane en ander lewend hou.

Die feit is egter ook dat die populistiese ANC-jeugleier, Julius Malema gesê het wit mense is misdadigers, hy word van haatspraak aangekla oor die sing van die liedjie, Skiet die Boere. Die ANC staan by hom. Jimmy Manyi se uitsprake oor bruin mense en Indiërs het heel nuwe parameters vir binne perke bruin debat gestel, en dit by baie duidelik los van die sogenaamde swart verwysingsraamwerk gemaak.

By baie van die volkstaatgroepe is ras onverskoond ‘n norm, en in enkele gevalle selfs deur ‘n godsdiensvertolking herlei na ‘n regverdiging vir diskriminerende praktyke. Ander, soos die VF Plus en die Orania-beweging, is baie gesteld op volkeregtelike suiwerheid.

Presies hoe sinvol dit is om te argumenteer oor wie en wie se groep nou die mees rassistiese is, is moeilik om in te sien. Dit is so met persepsies gelaai dat ooreenstemming in elk geval nie bereik kan word nie. As so ‘n debat iewers heen wil gaan, moet die vraag eerder wees: “Wie is die minste rassisties?”

Eers wanneer die fokus andersom swaai, sal die land kan vooruit gaan.

Herman Toerien