Subscribe by Email

Is daar hoop vir Tibet met nuwe Chinese president?

Eergister is pres. Barack Obama as president van die VSA herkies. Vandag begin die proses vir Xi Jinping om tydens die Chinese Kommunistiese Party se kongres om Hu Jintao as president van die land agter die bamboesgordyn op te volg. En hiermee vlam die Tibettaanse regering in ballingskap se hoop op ‘n beter bedeling vir Tibet op.

Oornag gaan dit egter nie gebeur nie. Xi word eers amptelik in Maart volgende jaar president, en sal stellig versigtig oor sensitiewe kwessies wees tot hy seker is sy mag is voldoende gekonsolideer.

Die uittredende Hu het met die opening van die kongres sy reputasie as tegnokraat eerder as revolusionêr gestand gedoen deur ‘n oproep tot politieke hervorming ter wille van die uitbou van demokrasie te doen, hoewel hy steeds nie ooghare vir die afskaffing van die eenpartybedeling het nie. Hy het ook skerp teen korrupsie uitgevaar.

Die Tibettane se hoop dat Xi hul staatkundige lot sal verbeter spruit uit die vriendskap tussen die Dalai Lama en Xi se pa, Xi Zhongxun. Die ouer Xi was ‘n voormalige vise-premier van China, en het lank na die Dalai Lama die land uitgevlug het, nog ‘n horlosie gedra wat hy as geskenk by die Tibettaanse leier gekry het.

Chinese waarnemers wys daarop dat geen Chinees sy pa sal verraai nie, vandaar die versugting dat die jonger Xi met ‘n sagter oog na Tibet sal kyk. Hulle hoop minstens dat Xi vir Tibet sal wees wat Hu vir gemakliker betrekkinge met Taiwan was.

Die Dalai Lama het onlangs as hoof van die Tibettaanse regering in ballingskap afgetree, en as geestelike leier ‘n laer profiel begin handhaaf. Sy opvolger as politieke leier, Lobsang Sangay, het onlangs in Duitsland tydens ‘n mediakonferensie gesê Tibet soek nie volle onafhanklikheid nie, maar ware outonomie binne die Chinese grondwet.

Hy het die Chinese beheer oor Tibet sedert die oorname in die vyftiggerjare as ‘n besetting beskryf, en wys daarop dat die Tibettane nou geen outonomieregte het nie. Kinders kan byvoorbeeld nie in Tibettaans skoolgaan nie en Chinese amptenare bestuur Tibet. Sowat 60 Tibettane het hulself reeds die afgelope paar jaar uit protes teen die Chinese besetting aan die brand gesteek, waarvan ongeveer 50 oorlede is.

Sangay het die aandrang op volle outonomie sonder volle soewereiniteit as ‘n goue middewegbenadering beskryf.

Kort tevore het die speaker van die Tibettaanse parlement in ballingskap China daarvan beskuldig dat Tibet nou ‘n reuse gevangeniskamp is. Krygswet geld steeds. Penpa Tsering het ‘n groot vierdaagse saamtrek van Tibettane in ballingskap wat van oor die hele wêreld saamgetrek het, in die Indiese dorp Dharamshala toegespreek. Toe was die verwagte regeringsverandering in China ‘n belangrike besprekingspunt, en is gesê dat die Tibettane hoopvol is dat Xi Jinping as toekomstige Chinese leier meer genaakbaar sal wees.

Maar die Tibettane sal nie gou weet of hul strewes nou sal realiseer nie.

 

 

Herman Toerien