Subscribe by Email

Iran gaan binne twee jaar kernwapens hê – MI6

Die hoof van MI6, John Sawers, het in ‘n seldsame openbare verklaring gesê Iran kan binne twee jaar oor kernwapens beskik, ten spyte van sy agentskap se pogings om die proses te dwarsboom. Sawers was voorheen ‘n diplomaat wat intensief by die kernonderhandelinge met Iran betrokke was.

Sawers sê dit sal vir Israel en die VSA groot gevaar inhou as Iran wel kernwapens het, en dit is baie waarskynlik dat een na dié lande militêr sal ingryp, of erg in die versoeking sal wees om in te gryp, om dit te verhoed.

Die VSA het intussen, soos die Europese Unie, verskerpte sanksies teen Iran ingestel, en die spanning in die Straat van Hormoez het toegeneem. Die VSA het bykomende skepe, waaronder mynveërs, na die gebied gestuur om die gevaar van Iran se vloot mini-duikbote die hoof te kan bied. 

Intussen het die VSA na ‘n klandestiene operasie ‘n Iranse en ‘n Chinese burger aangekla dat hulle toerusting wat vir kernwapenvervaardiging gebruik kan word uit die VSA na Iran wou smokkel. Die operasie het baie lig gewerp op Iran se pogings om die nodige materiaal en toerusting te probeer bekom. Die toerusting sou eers na Hong Kong, en van daar na Iran versend gewees het.

Foto: Grond-tot-grondvuurpyle word op ‘n onbekende plek deur die Iranse Weermag afgevuur. AP

 

 

Herman Toerien