Subscribe by Email

Internasionale Vigs-konferensie begin op Internasionale Nelson Mandela-dag

hivDie Internasionale Vigs-konferensie begin vandag in Durban waar adjunkpresident Cyril Ramaphosa dit amptelik sal open. President Jacob Zuma het afgevaardigdes verwelkom en sê Suid-Afrika is baie bly oor die geleentheid om gasheer te wees in ‘n tyd waarin die land vordering maak in sy reaksie teen die siekte sedert hy sy beleid in 2009 aangepas het. Hy sê die byeenkoms begin op Internasionale Nelson Mandela-dag en bied die geleentheid om eer te betoon aan die oudpresident vir die rol wat hy gespeel het in die stryd teen Vigs.

Die Amerikaanse filantroop en entrepreneur Bill Gates sê intussen hoewel hy Suid-Afrika loof vir die verspreiding van teen-Vigsmiddels, is die koers van nuwe besmettings steeds te hoog. Hy het in Pretoria die veertiende Nelson Mandela-lesing gelewer. Die stigter van Microsoft sê die stryd teen MIV en Vigs bly steeds hoog op sy sakelys. Hy het die wêreld gevra om saam te werk om te verseker dat Afrika se jongmense hulle potensiaal kan bereik. Gates gaan een van die sprekers op die Vigs-konferensie wees.