Subscribe by Email

Internasionale Moedertaaldag: Regering kom nie grondwetlike plig na nie

“Dit is baie ironies dat juis op Internasionale Moedertaaldag, daar ‘n ernstige debat in Suid-Afrika gevoer word oor die wyse waarop die regering tale se status ondermyn en moedertaalonderrig afskeep,” het mnr. Wouter Wessels, VF Plus-jeugleier gesê.

“Die nuwe Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale is ‘n daadwerklike voorbeeld van hoe die regering die Grondwet met betrekking tot die bevordering van al elf amptelike tale probeer omseil. So ook is dit ’n skande dat die regering sedert 1996 niks gedoen het om Suid-Afrikaanse tale deur ’n taalwet te bevorder soos in die Grondwet vereis word nie,” het Wessels bygevoeg.

Soos die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale tans lui, moet staatsdepartemente drie tale gebruik om sake te doen. Twee van die tale moet inheemse tale wees. Die VF Plus verwelkom die bevordering van inheemse tale teenoor Engels. Die party vind dit egter onverklaarbaar hoe Afrikaans, wat in Suid-Afrika ontstaan het, nie deur die ANC as ’n inheemse taal aanvaar word nie. Die kans is nul dat enige staatsdepartement of nasionale entiteit Afrikaans sal kies om sake te doen of dienste te lewer.

“Vaardigheid in Engels is van kardinale belang en moet nie afgeskeep word nie. Navorsing bewys egter dat taalvaardigheid in jou eie taal die vaardigheid in ’n tweede taal vergemaklik en dat skoliere beter presteer wanneer hulle in hul moedertaal onderrig kry. Dit is onnodig en nadelig om Engels as eerstetaal op Suid-Afrikaners met ander moedertale af te dwing. Daarom doen die VF Plus-jeug ’n beroep op die departement van basiese onderwys om meer amptelike tale te help ontwikkel tot onderrigtale in skole en toe te sien dat artikel 29(2) van die Grondwet wat bepaal dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse, in die praktyk uitgevoer word,” het Wessels gesê.

Die Verenigde Nasies se Onderwys, Wetenskap en Kultuur Organisasie (UNESCO) het die 21ste Februarie as Internasionale Moedertaaldag verklaar. Dit is ter nagedagtenis aan die dag in 1952 waarop studente wat betoog het vir die erkenning van hul taal, Bangla, as een van die twee nasionale tale van die destydse Oos-Pakistan (nou Bangladesh), deur die polisie doodgeskiet is. Die doel van hierdie dag is die bevordering van taal- en kulturele diversiteit.

“Die VF Plus dring daarop aan dat die regering uitvoering aan die Grondwet moet gee met praktiese en daadwerklike maatreëls om die status van alle amptelike tale te verhoog. Engels word deur slegs 8% van die Suid-Afrikaanse bevolking as hul moedertaal gepraat, maar tog domineer hierdie taal as die medium vir onderwys, regering, besigheid, finansies, wetenskap, uitsaaiwese, gedrukte media, reklame, straat- en ander naamborde,” het Wessels gesê.