Subscribe by Email

Internasionale Dag van die Wêreld se Inheemse Bevolking en die Koisan

Die Internasionale Dag van die Wêreld se Inheemse Bevolkings word ingevolge VN-resolusies jaarliks gevier. Met resolusie 49/214 van 1994 is dit op 9 Augustus vasgestel en in 2004 is resolusie 59/174 verder gevoer.

Dwars oor die wêreld kwalifiseer ‘n ongelooflike aantal gemeenskappe om as die oorspronklike inheemse bevolking bekend te staan.

Die definisie bepaal kortliks dat die groep die eerste bewoners van die betrokke land of streek moes wees. Voorts meld die definisie dat hulle dikwels deur latere aankomelinge oorheers word, veral getallegewys.

Baie van hierdie groepe is goed bekend, soos die aborigines van Australië, die Rooihuide van Amerika, die Eskimo’s van groot dele van Noord-Amerika, Groenland, ‘n deeltjie van Siberië en ‘n aantal eilande, die Lappe van Noord-Skandinawië, die Ainoe van Japan en die Koisan van Suider-Afrika.

Minder bekend is egter dat die huidige oorheersende inwoners van Indië, Sri Lanka en Taiwan nie die oorspronklike inwoners is nie.

Soms lyk dit of “inheemse” bevolkings soos die Baske in Spanje en Suid-Frankryk, nog ouer inheemse groepe begin oorheers en domineer het, en waarvan enkelinge steeds voorkom.

‘n Lastige aspek wat dikwels ingevoeg word, is die kwessie van handhawing van eeue-oue gebruike soos landboumetodes, gesondheidskwessies en ander wat duidelik dié groepe in ‘n staat van permanente armoede en in sosio-ekonomiese agterlikheid dompel. Die handhawing van kultuurelemente soos tradisionele kleredrag – al is dit net vir spesiale geleenthede – en veral taal, is minder omstrede.

Verskeie lande maak ook staatkundig voorsiening vir hierdie inheemse groepe. Indië, ‘n etnies-geografiese federasie, bied in sy nasionale parlement ‘n aantal gewaarborgde setels aan die pre-Indiese bevolking. Dit staan as korporatiewe selfbeskikking bekend omdat die betrokkenes nie noodwendig in die tradisionele gebiede woon nie. Nieu-Seeland voer dit ‘n trappie verder met nie net gewaarborgde Maori-setels in die parlement nie, maar ook ‘n Maori-kongres (parlement).

Rooihuide in die VSA wat in reservate woon geniet ook ‘n spesiale staatkundige status, aangesien, wat sekere sake betref, federale wetgewing eerder as die deelstaat waarbinne dit val, se wetgewing geld. Talle spesiale reëlings soos aksyns-vrystellings geld ook in hierdie gebiede.

Meestal word inheemse groepe se staatkundige regte egter deur gewone minderheids- en ander groepregte wat as deel van die Volkereg geld ondervang, omdat dit dikwels moeilik is om te bepaal wie nou werklik die oorspronklike inwoners was. Die Europese Unie stel as voorwaarde dat etniese minderhede selfbeskikkingsregte moet hê voor ‘n staat vir lidmaatskap oorweeg kan word. Turkye se eeuelange onderdrukking van minderhede, soos die Koerde, en selfs volksmoord soos met die Armeniërs en Assiriërs bemoeilik Turkye se strewe om ‘n lidland van die EU te word. Dieselfde vereistes is aan Spanje gestel wat tot outonomie vir die Baske en Kataloniërs gelei het, maar is nie aan Frankryk gestel nie waar minderheidstale aan die verdwyn is.

Die Afrikaner sal waarskynlik ingevolge die definisie van inheemse bevolking nie die pyp rook nie, maar dit diskwalifiseer hom nie van volkeregtelike verwagtinge op selfbeskikking nie. Dié reg word op die oog af in artikel 235 van die Grondwet ook erken. Dié artikel is deels met die Internasionale Reg oor selfbeskikking gesinchroniseer soos die definisie van ‘n groep (taal en kultuur maar ras uitgesluit) en deels nie, soos dat die vlak van selfbeskikking beperk word tot iets wat steeds deel van die Republiek moet vorm. Dit voldoen dus nie aan die staatkundige verwagtinge van baie van die groepe wat hulle vir ‘n onafhanklike volkstaat beywer nie.

Groepe van die Koisan het verlede jaar die regering by die gelykheidshof gaan verkla en geëis dat die Koisan as inheemse volk erken moet word. Dié stap volg na van verskeie beloftes dadels gekom het.

Die naweek het president Zuma egter tydens ‘n Koisan-geleentheid verskoning gevra vir die voeteslepery, en beloof dat wetgewing voor die einde van die jaar deur die parlement gevoer sal word om die Koisan as “people”, of dan volk, te erken.

Of dit presies in pas gaan wees met die definisie van inheemse volke is nog te besien, omdat die Koi selfs sonder die San, uit uiteenlopende groepe bestaan wat elkeen sy eie taal en tradisies het. ‘n Onlangse Koisanberaad het ‘n liederlike onderonsie opgelewer toe die een “koning” na die ander hom as hoër as die ander wou laat erken.
Herman Toerien