Subscribe by Email

Internasionale dag teen kubersensuur

Die internasionale mediawaghond, Verslaggewers sonder Grense het ter viering van die internasionale dag teen kubersensuur vandag, ‘n verslag uitgereik wat die grootste bedreigers aan die kaak stel, en ook toon hoe hulle te werk gaan.

Die lande wat die strengste kubersensuur toepas is China, waar na die nuwe groot kubermuur verwys word, Sirië, Bahrein, Iran en Viëtnam.

Die instansies wat die ergste skenders van kubervryheid is, is Gamma, Trovicor, Hacking Team, Amesys en Blue Coat.

Verslaggewers sonder Grense wys daarop dat die oortreders nou meer subtiel te werk gaan as voorheen toe internetdienste regstreeks gesensor is. Nou word mense, soos joernaliste, se internetverkeer onderskep dikwels sonder die slagoffer se medewete, en ontleed. In lande soos Bahrein het mense selfs aan die pen gery weens inligting wat die koningshuis so bekom het.

Verslaggewers Sonder Grense is ontsteld daaroor dat die onderdukkende lande dikwels die programmatuur om mee te luister, in westerse lande aankoop wat self groot voorstanders van persvryheid is.Dit word as die uitvoer van digitale wapens aan onderdrukkende lande beskryf.

Die organisasie verwelkom dit dat veertig lande nou lidlande van die Wassenaar-ooreenkoms is wat probeer keer dat muishondlande hul hande op dié programme kan lê.

Herman Toerien