Subscribe by Email

Houtbaai geweld, die ander kant van die munt

Foto: Lulama Zensile , Rapport.

Dit blyk rustig te wees in Houtbaai, vir nou, na die week se geweldadige uitbreek van verset deur die inwoners van Hangberg en die polisie, toe die stad Kaapstad begin het om plakkershuisies teen die berghang af te breek.

Die Kaapse stadsraad het in die week gepoog om 83 plakkershutte wat in ’n brandpad teen die Sentinel bo die Houtbaai-hawe gebou is, af te breek. Hulle kon daarin slaag om slegs 29 van die hutte af te breek, te midde van die geweld waarin sowat 50 mense beseer is, waaronder 4 mense elk ‘n oog verloor het, omdat hulle in die gesig geskiet is deur die polisie.

Die betogers is veral woedend oor die wyse waarop die polisie opgetree het, en hulle beweer dat die polisie met opset na hulle gesigte en privaatdele geskiet het.

Maar wat van diegene wat nie deel was van die betoging nie, maar ook ‘n oog moes verloor in die optrede van die polisie?

‘n Hartseer Ikram Halim wat sy oog met die onluste verloor het kry nie antwoorde vir sy gemoed nie. Sy grootste oortreding om raakgeskiet te word? Hy was besig om kinders wat op pad skool toe is uit die pad te help toe die insident plaasgevind het.

Halim vertel dat toe hy terugkyk was ‘n polisieman sowat 15 meter van hom af en het die sneller getrek van ‘n wapen wat op sy gesig gemik was. Een van die balletjies het in sy oog ingegaan en later by die hospitaal is sy oog verwyder en die oogkas is met silikoon gevul en toegewerk.

Die vraag is nou, of Halim enige vergoeding gaan kry vir hierdie onwerklike optrede wat hom nou feitlik ongeskik gelaat het? Hierdie is arm en weerlose mense wat nie toegang het tot die regstelsel om eise in te dien nie.

Ikram vertel hoe lief hy Houtbaai het terwyl hy bloederige trane uit sy oog vee:

“Mense hier rond dink dat die hele onluste nie oor die dwelmhandel, brandversperrings of anderkant die slootstorie  gaan nie, maar eerder oor mense met geld wat stelselmatig besig is om die lewe vir hulle ondraaglik te maak sodat hulle hul duur huise daar teen die berg kan bou”.

“Ontwikkelaars het reeds grond daar bekom en wooneenhede gebou wat die mense vir R300000.00 sou kon koop, toe dit klaar gebou is was die pryse R999000.00. Watter visserman kan dit bekostig?”

“Is dit nie juis die vissersgemeenskap wat Houtbaai anders maak nie? Ons het mos genoeg speelplek vir rykes en ons moet die vissersgemeenskap saam met Hangberg as ‘n erfenis beskerm” sê Halim.

Sovêr Koerant kon vasstel, is daar nie ’n onmiddelike brandgevaar waar hierdie hutte gebou is nie, omdat die plantegroei nog kort is en herstel van ’n vorige brand in die omgewing. Dit blyk ook dat die beskuldigings oor ’n dwelmnetwerk aan die bokant van die berg, dalk ook nie veel water dra nie, aangesien niemand nog daarvoor in hegtenis geneem is en die plakkers self sê dat hulle nie so iets daar sal duld nie.

Dit blyk ook dat daar nie ’n amptelike hofbevel bestaan om hierdie mense regtens daar te verwyder nie, aangesien die stad Kaapstad nog in die proses verkeer om so ’n hofbevel te bekom.

Dit blyk ook dat daar, volgens die inwoners, geen alternatiewe blyplek aan hulle verskaf word nie, dus, as jou hut afgebreek word, slaap jy onder die sterre. Die inwoners is dit eens dat hulle tevrede sal wees as die regering aan hulle hophuise kan voorsien aan die onderkant van die berg, waarop hulle met graagte dan self en vrywillig sal verhuis.

Gaan Houtbaai hierdie week steeds kalm bly?

3 Responses to Houtbaai geweld, die ander kant van die munt

  1. Sandra Dickson

    September 27, 2010 at 6:37 am

    Goeie More!
    Neem jou punt. Verstaan dat daardie persone nie ‘n plek het om te bly nie en het baie simpatie daarmee. Ek is ook baie bly dat julle die storie uitlig. Dit is veral verskriklik dat mense hul oe verloor oor die reg om iewers te bly – dit is ‘n lewenslange prys om te betaal. Dit is ook ‘n duidelike en waarskuwende bewys dit reeds te ver gegaan het. Dis net jammer dat so min mense buite die gebied aandag daaraan skenk.
    Hou aan met die goeie verslaggewing! Groete Sandra.
    PS. En ek is baie skaam dat juis die Kaap met sulke tonele begroet word.

  2. Kenny

    September 26, 2010 at 4:33 pm

    Hi Sandra

    Jou kant van die storie is slegs geldig omdat daai man in die straat wel kan bekostig om ten duurste geholpe te raak. Ek dink, die punt wat hierdie artikel wil tuisbring is juis, “wat van die een wat dit nie kan bekostig nie”

    Jy sê ook, “dan woon daai persoon nie eers in houtbaai nie” juistemit, hy het reeds ‘n blyplek elders, maar hierdie mense het niks anders nie.

  3. Sandra Dickson

    September 26, 2010 at 2:02 pm

    Tragiese storie. Nog ‘n kant van die storie. Die man in die straat moet ten duurste ‘n erf aankoop, ten duurste planne laat optrek en ten duurste laat bou. Daarna word daar ten duurste belasting gehef op die geboude huis. Dan woon daardie persoon nie eens in houtbaai nie. Gereelde inspeksies word ook gedoen om te sien dat onwettige bouwerk nie aan die huis gedoen word nie. Onwettige aanbouings word summier gesloop. Dus verstaan ek nie heeltemal die wettigheid van die strukture teen Hanberg nie.