Subscribe by Email

Hooggeregshof, VSA en Verenigde Nasies oor Omar al- Bashir

sudan’n Volle bank van die hooggeregshof in Pretoria het beslis dat die regering se versuim om Soedan se president Omar al-Bashir te arresteer, in stryd is met die grondwet.

Adjunk-regter-president Aubrey Ledwaba het gesê die regering moet stappe doen om Bashir in hegtenis te neem.

Advokaat William Mokhari, wat namens verskeie Suid-Afrikaanse ministers, die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag opgetree het, het omstreeks 20 oor drie in die hof gesê die regering het nou betroubare inligting dat al-Bashir uit die land is.

Hy het daaraan toegevoeg dat sy vertrek volledig ondersoek sal word.

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Ban Ki-moon, sê die Internasionale Strafhof se lasbrief vir die arrestasie van Soedan se president Omar al- Bashir moet geïmplementeer word deur die lande wat die hof in Den Haag se statute onderteken het.

Hy het in Genève gesê hy neem die lasbrief vir die inhegtenisneming van Bashir op aanklagte van misdaad teen die mensdom uiters ernstig op.

Die Amerikaanse regering het vroeër sy diepe kommer uitgespreek oor Bashir se besoek aan Suid-Afrika vir die Afrika Unie-beraad.

In ‘n verklaring word gesê die regering het ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om internasionale pogings te steun om geregtigheid te kry vir die slagoffers van Darfur.

Die Europese Unie het ook gesê uitvoering moet gegee word aan die lasbrief vir al-Bashir se inhegtenisname en dat die Suid-Afrikaanse regering hom in hegtenis moet neem.

Die EU sê hy steun die Internasionale Strafhof en samewerking met dié hof is ‘n voorvereiste vir die hof om doeltreffend te funksioneer