Subscribe by Email

HOMKA!: Die Kuseb loop!

Het iemand dalk al opgelet hoe die reënkanse oor Namibië so uitloer – uitloer op ons TV-weerkaarte? Dat die tropiese lug nou al ‘n hele ruk daar uit die noorde tong-uitsteek, en soms selfs oor die dorre Namib sterk?

Nie meer so dor nie, so lyk dit as ‘n mens bietjie na Namibiese koerante se webwerwe gaan loer en lees.

Ja, die Kuseb loop weer – dis nou bogronds, en het selfs deurgebreek het see toe. Nou het die Walvisbaaiers, vreemd, nie water nie. Of te min water, want die watervloed het die waterwerke wat gewoonlik die dorp en omgewing vanuit die Kuseb se ondergrondse pens voed, beskadig.

Ook die Swakkoprivier het deurgebreek see toe, en so ook ‘n komp ander wat maar selde ‘n druppeltjie bo die grond wys.

Dit reën oor Namibië, en dit reën minstens plek-plek ook oor die woestyn.

Ons was al half opgevrotte oumanne daar op Rooikop in die Namib waar ons gestasioneer was, toe die PF’s iewers “in die republiek” wakker skrik en besef daai klomp Gunners het nog nooit hul OO gedoen nie.

Nou voor ek die OO en ander afkortings vertaal, net hierdie tussenval. Die weermag het gevrek oor afkortings, en mildelik sy eie uitgedink. ‘n Mens moes soort van daarmee grootword.

Toe kry ‘n minister ‘n voorlegging, en dis pure afkortings. (Volgens my inligting was dit ‘n oud-soldaat en sou nie veel moeite hê nie, maar dis hoorsê).

Hy stuur die voorlegging terug na die generaals en admiraals en korporaals, met ‘n afkorting: HOMKA!

En al die minister se generaals, en al sy korporaals en al sy soldate kon nie uitpluis waarvoor HOMKA staan nie. Druipstert gaan klop hulle by die minister aan om nou na dié netelige kwessie te verneem.

“Dit staan vir ‘Hou op met k^% afkortings.’ ”

OO staan vir “ongereelde oorlogvoering” en is later met die minder onduidelike “Tein” vervang, wat soos die leser self kan uitwerk, vir “Teen-insurgenie” staan.

Die implikasie is in elk geval dat die gunners nou in plaas van kanonne deur die woestyn sleep, nou met R1’s deur die bosse moes loop en met blênks op mekaar moes skiet. Die uwe neem die swaarloop, want dis aan die einde van die oefening iemand anders se kopseer as daar fout mee gekom het. My eie R1 is veilig, silwerskoon, oor my bed se koppenent.

Die enigste bosse in ons geweste in die woestyn is in die Kuseb.

Die Kuseb is in baie opsigte ‘n wonderlike rivier. Hoër op, weg van die see af vorm dit die Kuseb-canyon. Dan loop dit die woestyn in, en mond by Walvisbaai in die see. Maar die rivierloop is vol sand, en die water loop byna altyd onder hierdie sand so syfer – syfer see toe. In die loop is daar bome, bosse en selfs polle gras. Hierdie rivier stuit die sandduine wat uit die suide noordwaarts probeer beur, sodat behalwe vir die kusduine soos die beroemde Duin 7, daar in die binneland eintlik nie sand is nie. Wetenskaplikes beweer egter die aanslag uit die suide is so volhardend, dat dit elke jaar gemiddeld tog ‘n paar sentimeter vorder, en dat die Kuseb eventueel die handdoek sal moet ingooi.

Maar dis nie nou nie, en baie van hierdie duinesand word nou die see in gespoel.

En die Kuseb is wyd. Die nou die rivierloop. Vir die uwe wat te voet kruis en dwars deur die sanderige bodem die swaarloop moes piekel, het dit omtrent drie kilometer wyd gevoel.

En onthou, ons was al ou manne, met die min daetrein wat al hard getik-tik het, en die vier dae en nagte op die trein terug huis toe net om die draai.

Ons slaan dan sommer gou-gou in die snikhete bedompigheid in die rivierloop ‘n tydelike basis op. Die brandwag bestyg ‘n boom, en die uwe maak soos olie Jacob en gebruik sy staaldak soos ‘n klip om ‘n uiltjie te knip.

Die droom is egter heelwat anders.

Op ‘n ent kom die klokkie van die roomyskarretjie duidelik aan. Ek is nog spyt dat ek platsak is, toe sak die newels effens en ek besef dis mos onmoontlik vir ‘n roomyskarretjie om deur daai sand te kom. En vinnig te kom. Nog nie mooi wakker nie, laat weet die brandwag: “Boys, hier is ‘n trop bokke!”

Daai liedjie van die bok se klok – dis nie ‘n twakstorie nie. So goed was ons versteek, of so het ons al soos die veld geruik, dat die trop bokke al binne-in die basis was voor hulle onraad bemerk het.

Die beste is dat ‘n mens nou ook nie sommer iets van die dors sou oorkom nie. Soek net ‘n laagtetjie, verbeel jou jy is ‘n meerkat (dis nou nie soseer vir die graafslag nie, maar vir die drinkslag, want daai water wat insyfer is ‘n aardige groen en ruik soos, wel, dit ruik nou nie soos Bolandse bergfonteinwater nie. En proe allermins soos Windhoek Lager, die troepe se voorkeurlafenis.

Saans is ons teruggeneem na Rooikop toe, waar die 110 van ons se slaapkwartiere ‘n leë voertuigloods was. Nou sit oumanne met gewere en blênks saans verveeld bymekaar (destyds kon mens net met te veel moeite kortgolf bietjie radio opvang) saam in ‘n loods en dit = moeilikheid. Soso Klaas Vakie wat sewe blênks se kruit voor by sy geweerloop ingegooi het, en toe helukkig gekeer is om die skoot in die loods af te trek. Dis toe buite gedoen, en afdoende om te sê, die blitsbreker en magasyn is tot vandag toe soek. Klaasvakie se stukkie oorblywende geweer is museum toe, en hy moes ‘n hele R87 skadevergoeding aan PW & Seuns opdok.

Sommer die eerste aand maak die manne “koeëls” deur die blênks se plastiese punte af te sny en terug in die “blênk in te smelt. Dié koeëls was heel gaaf om op die bed te lê en gaatjies deur die sinkdak te skiet. Dit het ook nie eintlik saak gemaak nie, want dit reën mos nie in die Namib nie.

Behalwe soms, soos nou.

Na ‘n paar dae is die PF’s (permanent force) se senuwees op en is besluit die ou manne het nou genoeg cowboys en kroeks gespeel. Operasie Kuseb is opgeskort.

LLDK (Lank lewe die Kuseb!)