Subscribe by Email

Hof hoor Malema het massamoord beloof sal AfriForum met protesoptog voortgaan

Die Suid-Gautengse hooggeregshof (sittend as die gelykheidshof) het vandag aangehoor Julius Malema het ’n massamoord beloof sou die burgerregte-organisasie, AfriForum voortgaan met ’n protesoptog na die ANC-hoofkantoor in Johannesburg. Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het aan advokaat Martin Brassey SC, AfriForum se advokaat getuig Malema het die dreigement gemaak tydens ’n vergadering wat AfriForum Jeug met die ANC Jeugliga op 18 Maart 2010 gehou het.

Die vergadering, wat by Luthulihuis in die Johannesburgse middestad gehou is, is deur die ANC Jeugliga geroep nadat Roets by hulle ’n bevestigingsbrief vir ’n protesoptog, wat die volgende dag gehou sou word, wou kry. ’n Bevestigingsbrief word deur wetgewing vereis wanneer ’n memorandum tydens ’n protesoptog aan ’n ander party oorhandig word.

Malema het tydens die vergadering vereis dat die haatspraakklag teen hom laat vaar word, waarop Roets geantwoord het dat AfriForum dit sal laat vaar indien Malema verskoning vra dat hy die lied gesing het, asook nie meer liedjies sing wat rassehaat tussen Suid-Afrikaners aanwakker nie. Malema het geantwoord dat hy dit nooit sal doen nie.

Roets het later genoem dat, indien Malema nie so ’n bevestigingsbrief verskaf nie, hul steeds buite die ANC-hoofkantoor sal betoog, maar sonder om ’n memorandum te oorhandig. Malema het geantwoord dat, sou AfriForum daarmee voortgaan, daar ’n herhaling sou wees van wat in 1994 met die IVP gebeur het toe hul sonder die instemming van die ANC buite die ANC-hoofkantoor betoog het.

Tydens hierdie voorval, algemeen bekend as die Shell House-slagting is 19 IVP-lede doodgeskiet.

Van die hooggeplaastes wat die verrigtinge bygewoon het was Winnie Madikizela Mandela. Sy het langs Malema in ’n stampvol saal gesit.

AfriForum poog om met dié hofsaak die “Skiet die Boer”-lied en ander liedere wat soortgelyke woorde bevat, as haatspraak te verklaar. Sou AfriForum die hofsaak wen kan beveel word dat Malema ook AfriForum en ander betrokke partye se regskostes betaal.

Die saak gaan na verwagting twee weke duur. Dit word more oggend om 10:00 in hof 8A hervat, wanneer Roets se ondervraging sal voortgaan.

E-tv se nuuskanaal en Solidariteit Radio saai die saak elke dag regstreeks uit.

Willie Spies

Regsverteenwoordiger: AfriForum

083 676 0639