Subscribe by Email

Hoedspruit sonder water

Hoedspruitdorp is nou amptelik sonder water. Dit is die boodskap van die waarnemende Munisipale Bestuurder, Me Rosina Ngoveni.

‘n Inwoner van Hoedspruit het opgemerk dat die waterkarre wat aan die begin na die ramp by sakesentrums water verskaf het, is nie meer daar nie. By navraag blyk dit dat daar heelwat meer agter die ‘droogte’ skuil as wat op die oog ag vermoed word.

ADMINISTRASIE OOK GEBUK ONDER ‘DROOGTE’?
Dit het aan die lig gekom dat die Munisipale bestuurder (MM) en die Direkteur: Tegniesedienste se vyf jaar kontrakte nie hernu is nie en dat beide se kontrakte die week uitgeloop het. Die Hoof Finansiële bestuurder, Me Ngoveni neem nou waar as Munisipale bestuurder. Skynbaar was daar ‘n Raadsvergadering in Desember 2011 en op daardie vergadering was besluit om beide se kontrakte met ‘n paar maande te verleng. Na berigte was daar weer ‘n Raadsvergadering vroeg in 2012 en daardie besluit is omgekeer. Die ‘vorige’ Munisipalebestuurder het net sy skouers opgehaal en aangedui dat hy nie meer vir die munisipaliteit werk nie en daarom kan hy niks aan die inwoners se probleem doen nie.

12 LITER WATER PER DAG
Die waarnemende MM het aangedui dat daar water by die saal beskikbaar is. Slegs 12 liter word per persoon toegelaat! Dit is onduidelik hoe ‘n gesin met 12 liter kan koskook, waterdrink, tandeborsel en die ander noodsaaklike take uitvoer. Skynbaar moet die inwoners maar verlief neem en die vuil rivier water gebruik vir die res van die noodsaaklike take? Geen waarborg kan gegee word dat die rivier water geskik is vir menslike gebruik nie. Dit is beslis nie geskik om klere te was nie – dit het ‘n paar oorgretige inwonder al tot hulle smart ontdek.

PROBEER BOORGATE EN OMRINGENDE MUNISIPALITEITE
Die waarnemende MM het gesê dat hulle besig is om te kyk na ‘n boorgat by die Oaks en hulle is in gesprek met die Phalaborwa en Tzaneen munisipaliteite om uit te vind of hulle daar water kan kry. Maar sy kon nie sê wanneer die waterkarre weer in die dorp sal wees nie. Die vraag is natuurlik waarom die stappe nou eers geneem is – die ramp het al twee weke gelede die gebied ontwrig.

BESIGHEDE SUKKEL OOK
Van die ondernemings wat gebottelde water verkoop het aangedui dat hulle ook ‘n groot problem het omdat hulle ook van munisipale water afhanklik is en dat hulle geen water van die munisipaliliteit ontvang nie. Dit is nou al meer as twee weke na die ramp.

STIEFKINDERS?
Inwoners kan voel dat hulle vergeet is. Water, klere en ander noodvoorraad word aan mense buite die dorp geskenk maar dit wil voorkom asof die inwoners in die dorp vergeet word? Dit wil voorkom asof daar nie op die munisipaliteit gereken kan word om die probleem binne die afsienbare toekoms op te los nie.

GOEIE ADMINISTRASIE KON DIE RAMP SE INPAK VERSAG HET
Een ding is duidelik. Goeie administrasie kon die impak van die ramp heelwat versag het. Mense wat deur die ramp getraumatiseer is, word nou verder getraumatiseer omdat die basiese kommoditeite soos water, net eenvoudig nie gelewer kan word nie.

As inwoner is dit erg frustrerend om een dag water by ‘n waterkar te kry net om die volgende dag te sien dat ook dit nie meer beskikbaar is nie. Is dit werklik so moeilik om vir so ‘n klein gemeenskap skoon water te verskaf? Erger nog, is dit werklik so moeilik om die suiweringswerke aan die gang te kry? Die ergste is dat die Premier van Limpopo met ‘n groot aantal blouligte en voertuie Hoedspruit besoek het – vertrek het – en niks het verander nie!

Ons DA Raadslid van wyk 1 – Hoedspruit, Mev Christine du Preez, het inwoners versoek om die waarnemende MM te skakel by 074 606 3135 as hulle meer inligting wil bekom. As inwoner wil ek haar bedank vir haar bereidwilligheid om te help en die gemeenskap by te staan.

Marie Helm
Inwoner van Hoedspruit-sonder-water