Subscribe by Email

Hoë dodetal in Turkse aardbewing

Na berig word is meer as 20 mense se dood reeds in die groot Turkse aardbewing van M7.2 bevestig wat Sondag Oos-Turkye geskud het. Volgens sommige bronne kan tot ‘n duisend mense dood wees, terwyl oorlewendes en lyke onder die puin gesoek word.

Selfs veel ligter aardbewings in Turkye veroorsaak dikwels groot getalle sterftes, en word toegeskryf daaraan dat die aardbewings gewoonlik naby die oppervlak ontstaan, en dat die kwaliteit bouwerk in dié land dikwels veel te wense oorlaat.

Vroeër vanjaar het ‘n aardbewing in Wes-Turkye wat M 5,8 gemeet het, ook sterftes tot gevolg gehad. Ter wille van perspektief – die aardbewing wat die Tulbach-omgewing getref het, het 6.4 op die Richterskaal gemeet. Hoewel die Richterskaal nie meer wyd gebruik word nie, verskil die lesing gewoonlik nie baie van die Magnitude-skaal wat nou meestal gebruik word nie.

In Italië staan ‘n groep seismoloë op die oomblik tereg nadat hulle in 2009 versuim het om ‘n aardbewing te voorspel wat die lewens van meer as 300 mense geëis het. Die aardbewing wat La Aquila en omgewing geskud het, het M6.3 gemeet.

Die groot Turkse aardbewing was die 17de aardbewing van M7 of meer vanjaar, en sluit die M9-aardbewing in wat Japan op 11 Maart getref het. Verlede jaar was daar 22 sulke aardbewings, die hoogste getal die afgelope aantal jare. Dit sluit ’n aardbewing van M 8.8 in wat Chili getref het.

Soos dikwels die geval is, het die jongste grote gevolg van ‘n paar weke waarin daar relatief min groot aardbewings was, en meer as ‘n week selfs geen aardbewing van M6 of meer was nie. Kort voor hierdie grote was daar egter nog ‘n groter skudding van 7.4 op die Kermadec-eilande, noord van Nieu-Seeland. Dié gebied is vanjaar reeds verskeie kere erg geskud.