Subscribe by Email

Hlaudi Motsoeneng is verstom oor die SAUK-betogers se bekommernisse

SABC-sinking-stricken-shipDie SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, hou vol dat die openbare uitsaaier sal doen wat hy glo reg is vir die nasie. Groepe het gister by verskeie SAUK-kantore vergader om te betoog teen Motsoeneng se omstrede beleidsbesluite wat volgens hulle gelei het tot ‘n krisis by die organisasie. TimesLive berig dat toe Motsoeneng uitgevra is oor die betogings, het hy gesê hy is nie seker waarom hulle so ‘n bohaai daaroor maak nie. Hy hou vol dat hy mense se reg om besware te lug respekteer, maar dat die SAUK ‘n plig het om te vervul.

Intussen het die African Editors’ Forum gesê besluite by die SAUK, waar joernaliste geskors is omdat hulle besware gelug het oor seker verwikkelinge, is ‘n skending van die bepalings van die Uitsaaiwet, die Grondwet van Suid-Afrika, die Afrika-handves en die doelwitte van die Demokrasie-handves. Die forum, wat redakteurs in alle Afrikastate verteenwoordig, sê ‘n maand voor die plaaslike verkiesing dat daar kommer bestaan dat die SAUK se besluit om nie alle aspekte van die nuus uit te saai nie inbreuk maak op die reg van kiesers om inligting te ontvang. Die forum wil hê president Jacob Zuma moet ingryp.