Subscribe by Email

Hil spêling us frot

AfriForum Jeug het vandag skoolhoofde, leerlinge en ouers uitgenooi om klagtes omtrent die swak gehalte van Gr.12-vraestelle op AfriForum Jeug se webblad, www.afriforumjeug.co.za, te rapporteer. AfriForum Jeug het ook vandag ’n griefskrif in hierdie verband by Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, ingedien en het onderneem om elke klag wat deur lede van die publiek by AfriForum Jeug ingedien word, onder die minister se onmiddellike aandag te bring.

Luidens mediaberigte is die gehalte van die afgelope rekordeksamen se vraestelle in veral rekeningkunde, wiskunde en lewenswetenskappe van uiters swak gehalte, terwyl skoolhoofde sukkel om hul klagtes en voorstelle aan die departement deur te gee. “AfriForum Jeug sal verseker dat klagtes in ʼn noodskrywe aan die minister gestuur word en só ook namens bekommerde leerlinge en ouers met die departement skakel,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Die departement van basiese onderwys het ʼn doelwit vir hulself gestel om meer Gr.12-leerlinge vanjaar in wiskunde te laat slaag en dat geen skool ʼn laer slaagsyfer as 20% sal toon nie.

“Dit is egter kommerwekkend dat die departement ten doel het om ongeletterdheid en swak wiskundeslaagsyfers te takel, terwyl hul eie nasionale eksamenvraestelle vol spelfoute is,” het Oberholzer gesê.

AfriForum Jeug gaan ook binnekort met Motshekga in verbinding tree om ʼn reddingsplan vir die bevordering van moedertaalonderrig en meertaligheid in basiese onderwys aan haar voor te lê.