Subscribe by Email

Hier kom vuurwerke

Daar is twee krieketspelers wat, as hulle die dag behoorlik die kolfkorrel ingestel kry, ‘n oorwinning vir hul eie span byna onafwendbaar maak. Hulle is die veterane, oud-Protea Loots (Bazooka) Bosman van die Ridders en Shahid (Boom Boom) Afridi van Pakistan.

Gisteraand het Afridi gewys waarom sy span hom as mokerman aanwend al is sy suksesvolle beurte deesdae maar min gesaai. Bosman self is na ‘n besering in die krieketwildernis, maar onlangs het hy weer gewys waarom hy steeds T20-krieket speel deur ‘n warrelwindbeurt van 21 lopies. Maar Bazooka haal nie meer die Proteaspan nie, en gister het Boom Boom amper die Proteas laat les opsê hieroor.

Afridi se beurt van 88 lopies van net 48 balle en wat 7 sesse ingesluit het, het die besoekers op die Wanderers tot net 34 lopies van die Pienk Proteas se reuse 343 lopies gebring. Vir die Proteas het AB de Villiers (128), Hashim Amla (122) en Faf du Plessis (48) die wilgerlat met mening ingelê.

Die Proteas loop nou 2 – 1 voor in die reeks van 5, en Donderdag sal die Pakistani’s weer alles in die stryd werp om sake weer gelyk te laat trek vir ‘n uitklophou in die laaste kragmeting in Benoni.

Net die grootste optimis sal ‘n voorspelling waag.

Die Proteas sal hoop dat Afridi nou sy beurt gehad het, en nou eers weer sy gebruiklike minder suksesvolle beurte gaan speel. Pakistan het egter verskeie kolwers wat meer gereeld die spel kan domineer, en om nou te veel op Boom Boom te fokus kan ‘n groot fout wees.

Die Suid-Afrikaners sal ook kopkrap oor die onvermoë van sy kolwers om streepballe te boul om die kolftempo te smoor. Die besoekers het dié kwesbaarheid goed gedemonstreer deur in hul beurt 12 sesse te moker, teenoor die Proteas se sewe. Met viere was die twee spanne kop aan kop met die Pakistani’s wat net-net die neus voorgekry het.

As die weer saamspeel wag hier ‘n krieketfees soos min.