Subscribe by Email

Het swaeltjies skelmpies?

Verlede somer was hulle hier – swaeltjies wat bokant die buitelig voor ons voordeur ‘n moddernes kom bou het. Van die buitelig, tot teen die afdak-plafon – ‘n ideale plek. En toe die nes se tuit.
Na ‘n ruk was daar ‘n geraas binne die nes – die kleintjies het gekom!
Tussenin moes ons ons buitelig maar suinig aanwend, want daai lig kan warm word, en ‘n mens wou nou nie graag geroosterde swaeltjies bokant die voordeur hê nie.
Heel dikwels het die gesin op die hek so ‘n meter van die voordeur kom sit, en al kwetterend vir ons nuus gebring. Ongelukkig verstaan nie een van ons swaeltjie nie, maar ons het saam met hulle duim (of vlerkpunt) vasgehou ons kat maak nie ‘n dodelike sprong nie, of Pumba kry nie ‘n los gelukkie nie.
Toe is dit winter, en hulle vort. Ons spring – doen die nodige verwerk in die omgewing, lapwerk op die dak, en baie belangrik, haal die lamp uit die voorlig en bring ‘n ander voorlig aan.
Ons is gereed vir dié somer se swaeltjies.
Of dit ander swaeltjies was, of die kleintjies van die voriges, dit weet ons nou nie.
Maar op ‘n dag is die verliefde paartjie daar. Hulle gesels ook land en sand van die hek af, maar spandeer nog meer tyd op die diefwering, waar hulle hulself in die eenrigtingglas kan spieël. En so gesels-gesels tittewyt en vry hulle, duidelik erg verlief.
Maar hulle werk tussenin ook aan die nes. Elke keer as ‘n bui val, bou hulle die ingang se tuit langer. Dié somer reën dit baie, en hulle bou baie, en dié bouery stop nie voor die tuit amper ‘n meter lank is nie, met ‘n effense kinkel. Sou hulle geweet het daar gaan baie gure weer wees?
Met al die bouery en vryery was daar, lyk dit my, nie regtig kans vir …wel…
Dit lyk nie of daar kleintjies was nie.
Laat in die somer is donsies aangevlieg, maar as daar eiertjies was, was dit seker windeiers.
So tussenin is die kat ook afgesterf, sodat die rotte nou weer snags op die dak baljaar en ‘n buurkat moet kom probeer orde skep. Maar dié kat wys nie gesig by die voordeur nie.
Een oggend, so ‘n paar dae gelede, sit ek voor die rekenaar, en Pumba lê voor die voordeur. Dit donder en blits buite, en kort-kort sous dit. Ons wag vir ‘n lang genoeg breek in die weer sodat ek saam met Pumba die koerant kan gaan koop, en Pumba op die gras kan gaan …vir ander honde blaf.
En hier uit die grouigheid kom een van die swaeltjies aangevlieg. Seker gou ‘n “sortie” gevlieg om ‘n klomp nattigheidsmuskiete te gaan vernietig – en my so ‘n paar raakskiete te vrywaar.
Maar die swaeltjie het seker vir ‘n donder op sy stert geskrik, en hy (ek het intussen besluit dit moes die sy wees) vlieg by die voordeur in, en toe al in die rondte.
Gewoonlik kry hulle gou weer koers by die voordeur uit, maar dié keer word om en om gevlieg. Ek besluit om die lig af te sit, maar dit was ‘n fout. Die swaeltjie vlieg laer, en Pumba kyk die eerste keer op.
Om ‘n lang storie kort te maak, ek moes soos olie Simson met die leeu, Pumba se bek oopsper tot die swaeltjie uitval, wat een vlerk gesprei, skeef-skeef soos ‘n krap probeer wegkom.
Ek moes eers vir Pumba gaan toemaak, en toe die swaeltjie probeer beredder.
Maar elke keer wat ek haar iewers hoog neersit, plof sy weer grond toe, en met die een vlerk gesprei, probeer sy wegkom.
Oplaas vang ek haar, klim op ‘n stoel en druk haar halflyf by daai lang tonnel van die swaeltjienes in. Sy laat haar nie twee keer nooi nie, en verdwyn.
Toe eers sien ek Pumba het ook op my hand tande ingelê gekry, en dit kos heelwat dokterwerk voor die wond se bloeding gestop is.
Maar toe begin die vrae: Is daai swaeltjie so beseer dat sy dit nie gaan maak nie? Versorg ‘n swaeltjie sy beseerde maat soos hulle met hul kleintjies maak?
‘n Dag lank sien ons net een swaeltjie, die groter een. Dié klink darem nie te ontsteld nie, gesels steeds vrolik in swaeltjie, so asof om dankie te sê dat sy maatjie in die nes besorg is. Maar genoeg swaeltjie verstaan ons nie om te weet hoe dit met die maatjie gaan nie.
‘n Dag of wat later, vlieg die twee weer in sorties, en sit die twee saam-saam op die hek en gesels, maar kyk net baie meer rond as voorheen.
Pumba se slagoffer het dit gemaak en is weer springlewendig, of die wyfie is daarmee heen en die mannetjie het sy skelmpie gaan haal. Dié dat ta so kom dankie sê het.
As ons tog maar net meer swaeltjie kon verstaan.