Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Zef Nieskômmintaar

Oor ‘n paar weke ruk Suid-Afrikaners weer op na die stembus. Synde ‘n diepsinnige politieke ontleder, is dit seker heel gepas dat Herrie ook ‘n stuiwer in die armebeurs werp.
Hoe gemaak as ‘n party agterkom hy is in die knyp? Wel, die Nederlandse Christen Demokratiese Appèl het ‘n peetoom verkies. Nee, nie ‘n soort sjoegher dêddie wat als moet reg toor nie, maar ‘n predikant van Utrecht (die een in Nederland, nie die een in KZN nie), Ruth Peetoom. Dit word nou ds. Peetoom se taak om die CDA, lank ‘n oorheersende party in die Nederlandse politiek, te vernuwe en weer relevant te maak.
Daar is ‘n hele paar Suid-Afrikaanse politici wat by die Nerderlanders kan gaan kaas, ekskuus, kers opsteek. Oupamagrootjie Botha Lêzi is een. Reken hy die ANC wil die IVP vernietig. Sjoe, as ‘n politikus op amper 90 nog nie weet dis die doel van veelpartydemokrasie om opponente so klein as moontlik te maak nie, dan sal die Zoeloeprins dit nooit weet nie. Maar Herrie meen die prins gaan al ‘n hele paar dae en nagte nodig hê om al die ringkoppe te tel wat hy self uit die IVP gedryf het. Die vernaamste sonde om so uitgewerk te word, is om net die gedagte te laat dat die IVP dalk weer ‘n slag moet dink aan ‘n leiserskapsverkiesing.
Maar Botha Lêzi is nie al nie. Cope is taamlik sonder hope na die twee groot indoenas koppe gestamp het. En die (voorlopige?) wenner het ook maar gewys hy kan ‘n taamlike Terror wees as iemand hom uitdaag.
Maar dis nie al nie. Het iemand al probeer kyk wat bly oor van iemand van die generaaltjie probeer uitdaag? Die kort en die lank is, ‘n man wat al ‘n staatsgreep uitgevoer en as diktator geregeer het, is nie ‘n kort mannetjie wat sonder handskoene aangepak kan word nie.
Nog iemand wat taamlik lank gaan besig wees as hy eendag, voor hy die Poorte kan ingaan, almal om verskoning sal moet vra wat hy uit sy party gedryf het, dan is dit nou klein Kenneth. Nee, nie Kenneth Kaunda nie. Nee, dis nou die een wat reken Zuma het dit mis as hy meen die voorvaders gaan mense jag wat nie ANC stem nie. Dis net die sonder selfrespek wat so die arme ondermaanses sal gaan teister, aldus klein Kenneth.
Die een wie se politieke loopbaan oop lê en glinster, is natuurlik Julias (volgens sy ID-boekie) Malema. Die prez het hom mos al ‘n jaar of wat gelede as kroonprins gesalf. Waarskynlik weens sy sangtalent. Want sang is vir die prez belangrik. Herrie wens net die een wat die prez se masjiengeweer verlê het, wil dit nou terugbring sodat ons ‘n nuwe deuntjie kan hoor. Nou nie Malema se deuntjies nie.
Onder die ander lawwighede wat die prez al aangevang het… Haai, en daar dwaal Herrie se gedagtes. Hy kan nie aan een lawwigheid dink nie. Eerder ‘n dosyn, soos ‘n land met paaie vol slaggate, korrupsie wat endemies geword het, vroue met wie hy nie getroud is nie wat in die ander tyd beland, dinge in die drinkwater… alles die hemel, aldus die prez want dis die ANC wat daarvoor verantwoordelik is.
Herrie besef ook hy moet bietjie kiesersopvoeding verskaf. Aan die betogende ontevredenes: As ‘n regerende party droogmaak bly jy nie van die stembus weg nie, jy gaan stem vir ‘n ander party. Dus, wanneer jou agterstewe nie meer so erg gekneus is waar die rubberkoeël jou getref het nie, gaan stembus toe en gaan stem vir ‘n ander party.