Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Ystervarke, erdvarke, vlakvarke en ander otterjasies

As ‘n mens voor wyle Jan Spies oor ‘n ystervark gepraat het, het hy nie kwaad geword nie. Hy was sommer reeds kwaad en beduie dan driftig van hoe die stekelrige swyn, as dit op ‘n plastiese waterpyp afkom, dit stukkend kou. En as daar nie water in is nie, sal dit ‘n entjie verder deurkou om te kyk of daar nie water in is nie, en so sal dit die hele pyp gaar kou.

By die Herries was dit egter ‘n ander soort swyn wat met die waterpype kom lol het, ‘n meganiese erdvark, genaamd aardvark.

Ja, hoekom die Afrikaners ‘n oud-Nederlandse naam vir die gedoentes het, en die Engelse ‘n Afrikaanse naam daarvoor, is ‘n storie heel op sy eie.

Dié erdvark is veronderstel om tonnels vir kabelpype onderdeur strate en bome deur te grou. Dan word die teer nie gebreek nie, en is daar bietjie minder lapwerk om te doen.

Maar so ver soos dié erdvark getonnel het, het waterpype, kragkabels en telefoondrade in die slag gebly. Die een oomblik lyk die Herries se straat soos ‘n rivier, en etlike ure later sit die Herries en ‘n klomp ander omtrent ‘n dag lank sonder water. Teen daai tyd het Herrie later so vuil soos ‘n vark gevoel, en so stekelrig soos ‘n ystervark. Ja, Herrie het moes nie baard nie, maar snelgoeiende boomstompe. Grys boomstompe. Herrie het eers half voorgekom toe die slim mense dubbellem-skeermesse uitgevind het.

Laer af in die straat was die mense amper ‘n week sonder water. Verderaan gaan mense nog twee weke sonder telefone sit na hul kabels ‘n week terug afgekou is.

En sowaar, hier kom die erdvark weer, en graaf op dieselfde plek. Dié keer is daar twee lekplekke, maar darem nie so erg soos die ene van ‘n paar weke gelede nie.

Dié erdvark is so lelik soos ‘n vlakvark. Dit mors en raas soos ‘n werfsvark, en knaag pype deur soos ‘n ystervark.

Gelukkig het dit niks gemeen met ‘n krimpvarkie nie. Krimpvarkies is nie familie van die vlakvark nie, en anders as ‘n ystervark wat tuine verniel, is ‘n krimpvarkie eintlik ‘n insekvreter wat ook nie sommer ‘n slang sal versmaai nie. ‘n Heel nuttige dier. Daarom seker ook dat dit so skaars is.

Herrie voel al om die erdvark onder lood te steek, maar omdat Herrie nie meer ‘n skietyster het nie, sal die kinders se kettie maar moet deug. Laat daai ding net weer voor die Herries se huis waag om weer te kom tonnel na die pyp reggemaak is!

Vir daai erdvark lus Herrie al om soos ‘n krimpvarkie slange te kou.

Of nog erger. Klein Herrie het ‘n rugbybal gekry. Bal in die hand kon Herrie die versoeking nie weerstaan nie, en skepkop die bal vlak onder die Cheetahs wat besig was om te oefen, se neuse deur die mikke. Herrie het seker meer as ‘n dekade laas ‘n rugbybal gesool. Maar dis ‘n winkelbal, en om dit te skop is om ‘n kruis tussen ‘n plank en ‘n baksteen te skop. Maar die gogga het Herrie gebyt, en elke dag “oefen” Herrie nou. Na die eerste dag is ‘n groot deel van die groottoonnael weg, en nou trek die pynskokke tot by Herrie se stuitjie as hy skop. Maar Herrie dink sterk daaraan om die erdvark se drywer met daai bal teen die kop te sool. Maar Herrie is bang dis erger as harsingskudding – dat so ‘n skop erger as kopaf kan wees.

En g’n wonder die Cheetahs sukkel so nie. Ten spyte van Herrie se briljante skepskop, gevolg deur nog balle wat oor die dwarslat geseil het, is Herrie nog nie ‘n kontrak aangebied nie. Boer Coetzer het tot 57 klubrugby gespeel, dus sal Herrie maar vasbyt – dalk kry hy Cheetahkleure voor hy 60 is. Maar dan sal die Cheetahs moet opskud!

Daar is juis net twee posisies waarin Herrie nie op die een of ander (gewoonlik lae) vlak verteenwoordigende rugby gespeel het nie. Skrumskakel en vaskopstut. Herrie meen nog as hy in een van dié twee posisies kans gekry het, was hy ‘n Springbok. Nog ouer as John Smit, en daarom amper vir seker nog die Bokkaptein ook.

Ore tuit, ore tuit, Herrie se kafskrywery is uit.

Herman Toerien