Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Witwater

Herrie sal kluitjies bak as hy op ‘n groot witwater-verlede aanspraak maak.

Bedoelende soos om op die Asrivier deur die stroomversnellings kano te ry.

Nee, Herrie se kanoroeiery was meer beskeie en meestal op stilstaande water.

Soos Herrie se “resiesfiets,” dateer die kano ook uit die dae toe vervaardigers gedink het die sportmanne was in hul vrye tyd gewigoptellers.

Ja, Herrie se fiets dateer uit die dae toe Peugot nog ‘n fiets was. Die kano is net-net ligter as die Titanic.

Tog is roei seker die watersport wat Herrie die beste onder die sitvlak gekry het. Veel beter as die seilplank ryery. Behalwe dat die seil Herrie, sodra hy regop is, so afgepluk het dat Herrie vandag nog ‘n grondige – of liewer modderige – kennis van ‘n hele paar Vrystaatse damme se bodemreliëf het, is Herrie ook amper-amper met wyle oom Pierrie se seilplank oor die Krugerdriftdam se wal.

Maar as daai kano so deur die water klief, is dit lekker. Soms.

Want by die water is daar ook allerlei ander goete, oos raakskiete en swaardvlieë. Onthou, ‘n man roei met twee hande, en het nie regtig ‘n hand los om ‘n vlaag muskiete wat bloeddorstig toesak mee by te dam nie. En ‘n steekvlieg wat deurkruip bene toe is nog ‘n moeiliker ding om by te kom, en hy buit die situasie uit.

Dit laat Herrie nogal dink aan ta’ Miems, een van Herrie se skoolvbriende se ma, wat selde of ooit sonder ‘n sigaret in die mond gesien word – ook agter die stuurwiel. By geleentheid ry die maat saam met haar kerk toe ry. Onderweg begin sy skielik gil, en in tale spreek. Keer amper die kar om. Toe die karretjie uiteindelik netjies in die middel van oom Willem se grasperk tot stilstand kom, reg langs die swembad, toe blyk dit die sigaret se kooltjie het afgewaai, in haar hoëhakskoen in…

Soos blits is die skoen uit, en die voet in die swembad gedruk. Oom Willem het uit die huis gekom, die petalje aanskou, en droogweg opgemerk: “Tog jammer die kooltjie het nie voor by haar rok ingewaai nie.”

Nietemin, Herrie is baie pro-groen, maar sal dit tog jammer vind as die hidro-stasies in die Asrivier die witwaterroei benadeel. Daar is metodes om dit te oorkom, maar dis duur. Maar tog, as ‘n dorp een van die beste witwatergeriewe in die wêreld het en Bethlehem metro-planne het, meen Herrie sal bietjie belê nou baie groot dividende later lewer.

Die slim mense praat van ‘n wen-wen-situasie. Maar dan wil Herrie tog vra dat die kanomense tog, wanneer hulle die Rooi taal gooi, die Asrivier se regte Engelse naam gebruik, die Axle River, nie Ash River nie. Watter Yank, Switser of Aussie wat na ‘n lekker stuk witwater soek om aan te durf, gaan nou lus wees om in ‘n rivier te gaan roei waarvan die water klink of dit na “ash” lyk of ruik? Onthou, daai mense is klaar bang vir Suid-Afrika se water, want ons gebrekkige groen- en bloudruppelstatusse, ons malaria en periodieke cholera en maagkoors, gaan nie ongesiens verby nie. Die mense oorsee wat wil roei, lees eers op om seker te maak water is veilig.

Ja, daar is iets in die Oos-Vrystaat se water, maar dis nie as nie. Kyk nou net hoe sterk is die Haaie weer noudat die Oos-Vrystaters weer terug in die span is.

Wie blikore het, laat hulle hoor.

Herman Toerien