Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Wintervakansie op die plaas

Pêpiki het saam met sy ma opstal toe gekom. Hy het met sy kleuterskoentjies klein spoortjies in die spierwit ryp getrap; sy ma se spore effens groter. Weerskante van die klein spoortjies lê twee dun strepies waar die kleinman se draadkar se wiele die ryp gesny het. Die rye spore lyk of dit tot teen die Maluti’s kan terugloop wat nou doer ver in die vroeë sonnetjie asemrowend mooi vertoon.
Familie van die plaasmense met hul kroos het vir die vakansie kom kuier, en Pêpiki is laat kom om as speelmaatjie, gids, wag en wat nog alles te dien.
Maar die klein stadsjapies slaap nog diep, en daarom wag Pêpiki in die sonnetjie voor die strykkamer vir sy beker koffie en ‘n bord lekker warm mieliepap.
Pêpiki het behoorlik voorbereid vir die okkasie gekom. Onder sy arsenaal om die stadsjapies besig te hou, is sy haasrek-kettie, en ‘n pypie. En so van agter ‘n bord pap die kombuistafel het Henkeman, die stadsjapies se pa, ‘n skoon uitsig op Pêpiki. Hy sien hoe Pêpiki die kettie versigtig van sy nek afhaal, versigtig ‘n klippie uit sy sak delf, die kettie laai en op iets seker so twee meter voor hom aanlê.
Seker een van die melkstalvlieë, dink Henkeman. Dié goed kan vreeslik orig wees.
Die skoot moes mis gewees het, maar naby genoeg toe die klip teen die betonblad verpoeier het, om die vlieg te bedwelm. Nou sit Pêpiki iets wat hy uit ‘n ander sak opdiep in sy mond, en bring die pypie na sy mond, maar lank nie meer so versigtig soos met die kettie nie. Die vlieg is immers half katswink.
Hy mik met die pypie na die vlieg, en “skiet.”
Moes weer mis gewees het, en hy laai weer, en lê weer aan, maar dié keer met die pypie amper teen die vlieg. ‘n Man het mos darem ook nie die heel dag tyd om te skiet nie.
Maar toe gebeur dit. Pêpiki moes te diep deur die pypie asemgehaal het, want skielik ruk sy kop en pluk hy die pypie voor sy mond weg en begin sulke diep roggel-hoese los. Daai lendelam vlieg moes met die inteugslag, by wyse van spreke, vlerke gekry het en tot teen die arme kleinman se verhemelte “gevlieg” het. En hy soek dit net niks.
Net dáár voel dit vir Henkeman of die papkrummels teen sy verhemelte vlieë en brommers is, en hy maak dit net-net betyds na buite. ‘n Ruk lank spoeg en hoes, kug en gorrel Henkeman en Pêpiki saam buite op die gras.
‘n Rukkie later het Pêpiki sy koffie en pap weg, en dit lyk of die hele gedoente vergeet is. Die Bolandse stadsjapies het intussen ook onder die dik lae verekomberse uitgekruip, van tant Suzie se spek en eiers weggeblaas, en stroom toe jillend in gelid by die agterdeur uit.
“Jippie, dit lekker op die plaas!” gil die sewejarige Ian dit uit waar hy as die voorhoede die buitetrappies vat.
“Gaan ons buffels jag?!” weergalm die vyfjarige Kallie dit uit.
“Jippeee!” gil die driejarige Ben agterna.
Henkeman en oom Sarel lyk of hulle tydhou … en toe bars die agterdeur weer oop en die drie Bolandertjies storm in. Hul kaal voete bloedrooi.
“Nou verstaan ek hoekom pa ons skoene vir die vakansie laat inpak het. Jis, daai wit sneeu is verskriklik koud.”
Herman Toerrien