Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Welkom in Bethlehem, of moes dit Bethlehem gewees het?

Herrie lees van die Suid-Afrikaanse paartjie wat Nieu-Seeland toe is vir die groot rugby, en plek in ‘n hotel in Wellington bespreek het. Na ‘n vrugtelose gesoek na hul hotel, vind hulle uit die hotel is in Wellington, maar die Wellington in Engeland. Wat maar net weer eens bewys Herrie kan lees.

Herrie meen dié Kapenaars sou in hul moue gehuil het as hulle in ‘n hotel in Wellington in die Boland inbespreek was.

Dus mense van Bethlehem, as kennisse bel en vra na oornagverblyf in Bethlehem, maak seker hulle weet om vir die regte Bethlehem op te let, veral as hulle oor die internet bespreek.

Benewens die Bethlehem van die ster-faam, het Herrie in die VSA alleen vyf Bethlehems op die internet opgespoor, en Herrie meen hy het al gehoor daar is eintlik ses in die Amerika. Suid-Afrika het minstens twee, die aspirerende metro in die Vrystaat (as hulle net die verbypad bou nie) en ‘n wit plakkersgebied buite Pretoria.

Maar Bethlehemiete moet ook nie verbaas wees as van hul inbespreekte gaste tydens die groot rugby nie opdaag nie. Daar is ‘n Bethlehem in Nieu-Seeland ook. Daardie Bethlehem is in Tauranga, en vir die oningeligtes wat nie weet waar dit is nie, dis in die Bay of Plenty. Daai Bethlehem is ook g’n vulletjie nie met kolleges en institute en ‘n nuwe “mall.”

Om alles te kroon, is dit nie net Bethlehem in die Vrystaat waar gaste dalk nie gaan opdaag nie. Herrie moet bieg, as hy in Nieu-Seeland gaan rugby kyk het, sou hy ook heel maklik plek in die verkeerde Bethlehem kon bespreek. Nou seker nie die ene in die Vrystaat nie, want al was Herrie dig, sou Mev. Herrie stellig die straatnaam of iets geëien het, synde sy ‘n Bethlehemiet is.

Maar hoeveel mense gaan nou lont ruik as hulle blyplek in die land van die silwer varing se Bethlehem soek, en in Bethlehem naby Harrisburg plek kry?

Heelwat meer sou seker snuf kry dis dalk nie die regte Bethlehem nie as hulle verneem dis naby Newcastle, al is dit ook per poks omdat Bethlehem naby Harrisburg naby ‘n Amerikaanse Newcastle is.

Maar hoeveel gaan besef hulle het die verkeerde land beet as hulle in Bethlehem naby Albany inbespreek? Trouens, hoeveel van onse mense weet dat Albany die hoofstad van New Yorkstaat is?

Met die name van die state sal Suid-Afrikaners hopelik minder vasbrand, want behalwe die grote in Pennsylvania en die ene by Albany, is daar Bethlehems in Konnekdiekat, New Hampshire en New Jersey. En dalk nog.

En met al die Amerikaners wat al die Eiffeltoring by swendelaars “gekoop” het, sou die Vrystaatse Bethlehem uit sy nate kon bars deur verblyf aan Amerikaners wat die wêreldbeker wou bywoon te smous. Net jammer die Amerikaners is nie eintlik rugbymense nie, want tien teen een sou hulle nie eens snuf in die neus kry as daar so ‘n paar klubwedstryde op Goblepark gespeel is nie. Net die telbord bietjie dokter dat dit lyk of dit die Russe is wat teen Italië speel en so aan. En hoe sal hulle nou ook weet al die tale wat hulle op TV hoor is nie Maori nie?

Soos die spreekwoord lui: “A Yank and his money are easily parted.” En dan is dit nog dollar$ ook.

Herman Toerien