Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Wat mense bereid is om te glo

Nou die oggend draf Pumba soos gebruiklik saam keraats toe om die Volksblad te koop. Skielik gaan die draffie oor in ‘n galop …klippetie-klop. En nee, dis nie ‘n wolhaarstorie nie. Maar voor verduidelik word hoe ‘n hond behoorlik klippetie-klop keraats toe, net ‘n paar woorde oor persepsies van feite.

Die arme persoon wat ‘n koerant se briewekolom behartig het soms Salomo se wysheid nodig om te besluit wat moet snippemandjie toe, en wat kan geplaas word. Maar soms is die keuse maklik, en sit die nuusman verbyster … nie net oor wat sommige mense bereid is om te glo nie, maar ook van ander verwag om te glo. Kom die skrywer agter sy meesterstuk is snippermandjie toe, sal hy die arme brieweredakteur toegooi onder vragte dokumente twak om die “feite” te “bewys.”

Aan die een kant is daar diegene wat hulle energie laat opslurp met komplotteorieë, en aan die ander kant die ontkenners. Onder die komplot-mense is daar diegene wat meen Martin Luther King is deur die CIA vermoor, prinses Diana se dood was nie ‘n ongeluk nie maar ‘n komplot van die Britse koningshuis om van haar ontslae te raak, en in Nevada is ‘n geheime ondergrondse basis waar buite-aardse wesens aangehou word, of minstens die oorskot van sulke wesens gehou word.

Onder die ontkenners tel diegene wat nie glo die mens was al ooit op die maan nie, dat Vigs nie deur die MI-virus veroorsaak word nie, dat sigaretrook nier longkanker veroorsaak nie en natuurlik die ontkenners van klimaatsverandering.

Nou het ‘n groep navorsers in Wes-Australië die vermeende verband ondersoek tussen mense wat nie glo die klimaat verander  nie, en vatbaar is vir komplotteorieë. Die navorsers het boonop hul nekke uitgesteek deur die klimaatsverandering aan CO2 te koppel, en dis al ‘n debat heeltemal op sy eie.

Vreemd soos dit mag klink, daar is ‘n verband tussen mense wat volstrek weier om vragte wetenskaplike verslae in die oë te kyk om iets te glo, en mense wat net soveel wetenskaplike feite sal ignoreer om ‘n volslae wolhaarstorie te glo.

Die navorsers, almal psigiaters, het vasgestel dis ‘n kwessie van persoonlikheid of ideologie. Hulle laat hulle gewoon nie deur feite beïnvloed nie. Kortom, dit help nie om hulle anders te probeer oortuig nie, hulle wil dit wat hulle glo net te graag glo.

Dit wás ‘n vreemde gewaarwording toe Pumba skielik begin klippetie-klop. ‘n Vinnige ondersoek bring aan die lig ‘n onderstebo insskroefkoeldrankproppie het netjies om een van Pumba se voetkussinkies gaan vassit. En sy het blykbaar daarvan gehou om soos ‘n ponie te klink, want dit het nogal ‘n gesukkel afgegee om die proppie beet te kry en af te trek.

Dit was nou ook nie heeltemal Pumba se oggend nie. Op pad huis toe, ry ‘n minibustaxi verby en knal kliphard. Arme Pumba … sy vrees klappers. Met die slag hier vlak agter haar, trek haar agterlyf so vinnig weg dat sy haar stertjie amper langs haar tong parkeer.

Die Australiese  navorsingsverslag kan hier gelees word.  

Herman Toerien