Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Wat kan alles in ‘n kar kom?

Groot Herrie het ‘n draai by oupa Nic en ouma Engela op Erfenis gaan maak.
Daar het hy en sy neef, Neef Herrie, te perd ‘n paar draaie gaan ry en is toe deur reën en hael oorval.
Terug by die huis vra Groot Herrie of hy die kar kan laat was, want hy wil die perdereuk uitkry.
Soos dit maar soms gaan, in daardie stadium was Herrie besig met saktyd, daai tyd wanneer die mense met ink in die are nie tyd het om uit te vra na iets wat nie met dit wat onder hande is (deesdae die toetsbord) te make het nie.
‘n Paar dae later kry Herrie toe die kans om Groot Herrie te vra na die perdereuk in die kar.
Kyk, Herrie het al gehoor van skaapdiewe wat ‘n ongelooflike klomp skape op ‘n bakkie of in ‘n kar, soms polisiekarre, gelaai gekry het, en selfs saam met ‘n ongelooflike klomp passasiers in ‘n taxi. Maar Herrie het nog nie van ‘n perd, of twee perde in ‘n kar gehoor nie.
Die klankie het toe wel met die reën te make gehad, maar die perde is darem nie in die kar gelaai om te keer dat hulle natreën nie. Nee, dis net hul eie klere, en ook Groot Herrie se nat perderyklere wat saam teruggery het wat vir die klankie verantwoordelik was.
Herrie onthou een keer toe hy nog self gaan patrollie ry het om skaapdiewe te probeer vastrek. Die voertuie het so veel as moontlik sonder ligte gery, om die beste kans te staan om die diewe vas te trek. So gebeur dit dat al die voertuie gelyk hoog teen daai berg halfpad tussen Bethlehem en Kestell is, toe daar onder in die vlei skielik twee kopligte aangaan, en ‘n voertuig vir die teerpad maak. Magteloos moes toegekyk word hoe daai voertuig wegkom. Selfone het nog nie bestaan nie – ja, daar was so ‘n tyd.
Onder word die spore vergelyk. Die voertuig se spore was met die inkom omtrent twee sentimeter smaller as met die uitgaan. Maar wat gelaai is, kon nie vasgestel word nie. Dalk maar ‘n vrag dagga wat iewers in die klowe gekweek is.
By geleentheid gaan die Kotze-broers van Bethlehem ‘n rugbytoets in Bloemfontein kyk, en maak sommer voor die vertrek al ‘n paar kappe. Die gevolg is dat hulle op die ingewing van die oomblik besluit om hul orige hansvark, Vark, saam te neem. Vark sit op die bakkie se sitplek voor tussen Willem en Adriaan.
Dis toe hulle al goed onderweg is, dat twee verkeersmanne wat self ‘n paar slukke tiermelk weg het, die bakkie voorkeur. Die broers besef hulle het nie ‘n veeverwyderingssertifikaat uitgeskryf nie, en in hul toestand besluit hulle om te probeer wegkom daarmee. Vark kry ‘n pet en ‘n donkerbril, en lyk te oorlams vir woorde waar hy sy snoet waarderend in sy twee mensevriende se nekke indruk.
“Name?!” dring die ridders na die lang pad aan. “Willem.” “Adriaan.”
“En joune?” Willem pomp vir vark hard in die ribbes.
“Og!” kreun Vark.
“Jis, ek het al lelike mense gesien,” sê die een spietkop vir sy maat, “maar hierdie ouens vat die koek.”
“Org kan nog gaan, maar daai ander twee!” beaam die ander.
Van toe af heet Vark toe Org.
Herman Toerien