Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Wapenondersoek

“Sjoe, nou neem hulle die wapending darem ernstig op!” seg oom Anneries .

“Wonder of hulle nou ook die geroeste windbuks in die rondawel en my ketties ook gaan ondersoek?”

Herrie glimlag maar, want oom Anneries is goed belese, en wat hy nie in die Vrystaat of oor die radio kry nie, kry hy op die internet wat hy aangeskaf het sodat hy en die tante met hul kind oorsee kan “skaaip” soos oom Anneries sê.

Die ketties is egter ‘n interessante verhaal.

Oom Anneries moes sy werk by die koöperasie los toe hy nog net ‘n halwe long oorgehad het. Daarmee was die tante toe ook ferm – g’n niks meer ‘n gedampies maak nie – ook nie eens skelm agter die rondawel nie. Oom Anneries kon nie uitmaak hoe die tante soos klokslag geweet het dat hy die donderbalkie agter die rondawel gaan slaan en die kankerbalkie opgesteek het nie.

“Ta’ Swygie kan hom deur haar kombuisvenster sien, en ta’ Swygie is so goed soos radio Ficksburg” het die tante in my oor gefluister.

Toe begin die oom pruim, en so soos hy winters agter die sonnetie aan, en somers agter die koelte aangetrek het, het die tante se plante eers verkleur en toe die een na die ander die handdoek ingegooi. Hy het toe maar na snuif oorgeslaan, tot die tante die slag droë hondemis daarin gemeng het.

En die tante is heilig oor haar tuin. Die doring in die tante se vlees, of anders gestel, die slagysters op haar gras was die buurhonde wat hul besigheid op die gras kom doen het. Oom Anneries het hulle probeer verwilder, maar die honde het hom gou uitgekyk en besef die ou man met die halwe long is nie ‘n bedreiging nie.

Toe maak oom Anneries vir hom ‘n paar haasrekketties, en het vir hom ‘n sakkie ammunisie onder die akkerboom gaan bymekaar maak. Van toe af is dit ‘n geval van ‘n hond wat nog skaars ‘n gedagte kon kry, dan brand sy agerwêreld of ribbes. Oom Anneries het nooit sy kinderdae-vindingrykheid met die kettie afgeleer nie. Nie lank nie, is dit te aardig om te sien hoe ‘n hond ewe rustig op die sypaadjie sou stap, maar sodra hulle binne oom Anneries se kettievisier kom, stert tussen die bene en tjankend die rieme neerlê tot hy weet hy is weer buite bereik… al is oom Anneries glad nie eens op die stoep nie.

“In my jonger dae was dit oorlog en rek skaars. Toe het ons maar met slingervelle gespeel. Kleilat ook, maar kleilatspelery het te maklik op ‘n neukery met die grootmense uitgeloop, en dan het die grootmense sommer ‘n slaanding handig byderhand gehad,” verduidelik oom Anneries.

Herrie is heelwat jonger as oom Anneries, maar onthou ook heelwat van kleilatteenspoed. Kleintyd is daar naby die Herries se huis, by ‘n stormwateruitlaat ‘n bouery. Nie eens ‘n hanetreetjie nie, is daar ‘n bloekombos. En by die bouery sit hulle ‘n longdrop op. Klei, latte en ‘n teiken mooi alles bymekaar. Die kleinspan wag tot ‘n bouwerker in die gemakshuisie is, en die daggadampe begin uittrek, en dan word laat waai. Byna nooit raak nie, maar eendag breek so ‘n kleimissiel in die lug in drie stukke, en die stukke tref al drie die sinke. Dié keer had die bouwerkers genoeg, en ons kleinspan moes laat spaander.

“By geleentheid,” vertel oom Anneries, was ons besig om die slingervel onder die knie te kry toe pa daar aankom. Hy wil ook ‘n skoot vat, seg hy.

“Man, toe hy daai slinger vat, toe besef ons die meester is in aksie. En toe hy swaai, toe is dit pure besigheid. En toe hy los, soek ons die klip doer ver…en toe klingel dit ‘n ent agter ons.

“Nee, nie ons eie huis se groot voorkamervenster nie, ‘n klein venstertjie van die bure. Soos blits het ons in die garage dekking gevat – pa instinktief heel voor, voor pa besef hy het nou darem té instinktief opgetree, en hy skaam-skaam omstap en met die bure gaan regmaak.

“Behalwe die venstertjie en die groot skrik van die tante toe die klip in die basin val waarin sy besig was om haar gesig te was, was daar darem nie skade nie.”

Herrie grinnik.

“Ja kyk, vir meer as ‘n week kon ons vir niks lag nie, want dan dink pa ons lag oor sy ongeneentheid,” sê oom Anneries net toe ‘n brak weer keffend en stert tussen die bene op die sypaadjie verbyblits.

“Ek dink tog oom moet voor daai kommissie van ondersoek gaan getuig. Hulle gaan ook ‘n bietjie humoristiese afleiding nodig kry,” sê Herrie.

Herman Toerien