Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Waar kry die Riemland sy naam vandaan?

Herrie lees nou die dag ‘n boek oor die Noordweste, waarin die skrywer baie moeite doen om te verduidelik hoe die verskillende streke soos die Sandveld, die Middelveld, Boesmanland en die Richterveld inmekaar steek. Hoe dié streke hul name gekry het, is sommer met die eerste oogopslag duidelik.
Herrie sien die land het 36 sulke streke, en die Riemland is een daarvan, maar toe wonder Herrie hoe dié gebied sy naam gekry het.
In 1999 het Vrystaat ‘n berig geplaas waarin terloops gemeld word waar die naam vandaan kom. In 1849, vertel iemand, kon tot ‘n halfmiljoen swartwildebeeste op een dag gesien word. Daar was duisende springbokke, blesbokke, en noem maar op. ‘n Firma in Kroonstad het in 1866 152 000 blesbok- en wildebeesvelle uitgevoer.
Rieme is gebrei, en vir ‘n ongelooflike aantal doeleindes ingespan.
Oom Anneries skiet spek as hy vertel dat dit na die Oos-Vrystaat se taai mense verwys. Ja, van Mof Myburg af deur ‘n klomp yster-voorrye opgelewer tot Jannie en Bismarck du Plessis nou. Hy praat ook van ‘n latere boerepresident uit die Riemland – skraal maar so taai soos ‘n riem, wat by geleentheid oor ‘n polisiedoringdraadversperring gespring het, ‘n latere LUR bygedam en weer oor die doringdraad gespring het voor iemand nog kon sê: “Lunsriem!” Maar al is oom Anneries se storie ‘n riemtelegram, is sy storie darem ‘n riem onder die hart.
Oom Anneries se stoepmaat, oom Kerneels, had dié dag ‘n ander storie. Hy meen die naam dateer uit die dae van die Groot Trek, toe ‘n Voortrekker aandag een van sy werkers stuur om die beeste te gaan aankeer. In die skemerte meen hy dis ou Blommie wat so ‘n aks agter ‘n boskasie uitsteek, en toe Blommie haar nie laat aanjaag nie, looi hy haar met die sweep. Skielik is ‘n brieskende losloper-buffelbul op hom. “Daai man het die rieme behoorlik neergelê,” vertel oom Kerneels.
“Nee,” sê oom Anneries, iemand wat daai storie sluk, is met ‘n slap riem gevang…”
Gewoonlik is ‘n naam sinvol en duidelik, soos Springbokvlakte, die Underberg, die Knersvlakte …
Maar Boland vir ‘n plek wat laer as die Riemland lê?
En dan is daar regtig ‘n gebied soos die Agtertang. Dis die gebied suid van die Gariepdam, maar waar die gebied die naam gekry het, het Herrie ontglip. Al wat Herrie weet is dat dit nie iets daarmee te make kan hê dat die mense agtertangse mense is nie. Nee, die meeste is sout van die aarde.
Oom Anneries vertel juis dat hy jare gelede as ouderling op ‘n klompie plase loop huisbesoek doen het. By die een plaas kry het net ‘n knaap tuis wat pas hoërskool toe is, en vra toe maar sommer, terwyl hy nou daar is, na hoe sake in die huishouding staan.
“En hou julle Boekevat?”
“Ja oom.”
“En gisteraand?”
“Ja oom.”
“Nou kan jy onthou waarvan jou pa gisteraand gelees het?”
“Van Wes-Transvaal oom.”
Oom Anneries was bietjie uit die veld geslaan, en probeer agter die kap van die byl kom.
“Ja oom, my pa het gelees van hoe die Israeliete deur die land Gad getrek het toe sê ma dit moes die Wes-Transvaal gewees het.”
Nou moet Herrie dadelik sê: Herrie se sentimente oor Wes-Transvaal is darem anders. Ja, gelukkige tye soos om ‘n verlengde basies in Potch se somer toe doen, Herrie se eerste regte migraine en die Mooirvier wat met ‘n klomp van Herrie se gholfballe in sy maag lê.
Rieme het ‘n groot invloed op Afrikaans gehad. Ons weet maar te goed wat “rieme na die vel sny” beteken, en ja, riemspring was nie ‘n lekker ervaring nie. ‘n Voorslag wat na ‘n persoon met baie goeie eienskappe verwys, was ook ‘n stuk riem, maar so ook die lunsriem en die trensriem. En ‘n mens kan maar net wonder hoeveel keer moes rieme ingespan word om waens uit die drif te sleep. Of met rieme die Vaaljapie uit die lande sleep as dit in die nat grond weggesak het, want ‘n Vaaljapie, as dit eers geloop het, het dit geloop. As dit in nat grond vasval, hou dit aan loop tot die skoorsteen ook al doef-doeffende onder die modder verdwyn.
Of is dit ook net ‘n riemtelegram?
Ja nee, die Riemland kon net sowel “Voorslagland” geheet het.

One Response to Herrie se kerrie: Waar kry die Riemland sy naam vandaan?

  1. Simon du Plooy

    Maart 8, 2015 at 5:58 pm

    Uit Potchefstoom Goeiedag,
    Die vertelling oor die Riemland geniet.
    Graag sal ek die naam van die boek oor die Noordweste wil bekom – haal aan:
    “Herrie lees nou die dag ‘n boek oor die Noordweste, waarin die skrywer baie moeite doen om te verduidelik hoe die verskillende streke soos die Sandveld, die Middelveld, Boesmanland en die Richterveld inmekaar steek.

    Groetnis,
    Simon du Plooy