Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Van sneeu, padmaniere en die lelike ou dybel

Die onlangse sneeu het Herrie nostalgies laat terugdink aan ‘n besondere jaar omtrent ‘n halfeeu gelede, toe Herrie saam met Pa, Ma, kleinboet en kleinsus ‘n jaar lank in die VSA was. So het Herrie twee halwe winters met sneeu beleef, en al die vet kinderpret wat daarmee gepaard gaan.

Maar soos die bekende advertensie lui, dis nie al nie. Met die lang somervakansie is die Dodge Lancer gepak en van die Ooskus na die Weskus en terug gery. En so met die nostalgie het Herrie verbasend baie onthou – na die besoek aan die Niagara-waterval, die stout beer in die Yelowstonepark, die vreeslike lang karavaan by Seatle, selfs hoe Herrie in die Salt Lake gesink het, die besoek aan Old Faithful in die Yelowstonepark, en die besef dat die hel daar bitter vlak onder die aardkors was. Mens kon dit ruik, pure swael. Herrie het mooi geluister na ‘n moontlike geskree daar onder waar die lelike ou dybel sy ding doen, maar of Herrie iets gehoor het, daaroor is die geheue nou te vaag. Later, elders, kan Herrie die besoek aan die bekende Devil’s Rock onthou.

Ja, en Herrie onthou van die kuier by ‘n Stellenbosse speelmaatjie se Amerikaanse ouma, waar ‘n stoomtrein kort-kort deur die dorpie is. In plaas van ‘n fluit het dit ‘n klok gehad.

Maar wat Herrie veral onthou, is die vreeslike ry. Herrie glo nie daar was destyds al spoedbeperkings nie, want die Dodge het gevlieg. Op die agterste sitplek was byna deurlopend ‘n stamoorlog, tensy daar natuurlik in ‘n kar voor die Herrie kinders aan die baklei was. Dan het ons vasgenael gesit en dié appelsswaaiery betrag.

Wat Herrie terugbring by die Bethlehemiet wat weens die sneeu glo so met sy motorfiets laag by Beaufortwes gevlieg het.

Soos die knapie en sy maatjie wat een aand sy pa se blitsige vuurwa vasgelê het, en kort na middernag teen ‘n hoë spoed by Kestell deur die spoedlokval is. Toe die knapies afgekeer en tot stilstand gekom het, sê die spietkop mos: “Ja, ons wag die hele nag al vir julle.”

Waarop die verbouereerde maatjie van die passasiersitplek af laat hoor: “Jammer oom, maar ons het gekom so vinnig ons kon.”

By geleentheid keer die manne ‘n man in ‘n vurige sportmotor voor. Glo 230 gery.

“Nooit!” sê die man. Sy spoedmeter het dan gesê hy ry 245 Km per uur. Hy kruie g’n so nie. Na ‘n stryery, kom die padvalke en die man ooreen dat hy ‘n ent terug sal ry, en dan teen presies 200 Km per uur oor die gatsometer sal ry om te kyk of die man se spoedmeter dan uit is. Die haastige man klim in sy kar, draai om in die rigting van waar hy gekom het en ry, en ry en ry …

Heel anders as die mense wat in die Karoo piekniek gehou het, maar toe hulle verder wil ry, wil die outomatiese vuurwa nie vat nie. Kry die kar met ‘n gesukkel tot op die teervlak, waar ‘n vriendelike plaaslike plaastante met haar viertrek stilhou en vra of sy kan help. Die man verduidelik die moeilikheid, as die tante die kar net met haar bakkie so ‘n stootjie kan gee aangesien nie een iets het wat as trekstang sal deug nie. Maar omdat dit outomaties is, moet dit teen 60 Km per uur wees.

Sy stem in, en die gesin klim in hul kar, en die tante draai haar viertrek om, en daar ry sy. Maar ongelukkig nie heeltemal weg nie. ‘n Ent verder draai sy om, en kom toe teruggery…presies teen 60 Km per uur!

Toe staan daar twee gekrokte karre in die Karoo.

Herman Toerien