Subscribe by Email

Herrie se kerrie: Van kalante en maaifoedies

Herrie lees die Nederlandse Vegetariese Bond is die naarheid in oor die hoeveelheid vlees, ekskuus, vleis wat die Kase jaarliks verorber. Gemiddeld eet elke Nederlander in sy of haar leeftyd 490 kippen (hoenders), 27 varke, 3 beeste en twee en ‘n halwe skape. (Herrie vermoed ‘n ander Nederlander het die ander helfte van die skaap verorber).

As ‘n boerklong nou nie baie beïndruk lyk nie – net 13 persent van alle Nederlanders eet elke dag vleis. Gemiddeld eet elke Nederlander “maar” 40 Kg vleis per jaar.

Om ‘n bietjie bisarre perspektief gee.

Met die landbousesnus van 2003 het die boere in Suid-Afrika altesaam ‘n half miljard rand aan veediefstal verloor. As vleis destyds gemiddeld R30 per Kg gekos het (teenoor vandag se gemiddeld van sowat R50) dan het veediewe in daardie jaar sowat 17 miljoen Kg vleis gesteel. Dis omtrent gelykstaande aan 20 Kg vleis per jaar per plaaswerker wat die boer eintlik as bykomende in natura-vergoeding kon gegee het.

‘n Paar weke gelede sou Herrie nog vir die veediewe gesê het: Julle karnallies, julle maaifoedies! Dis julle wat maak dat die Herries net maalvleis en hoendervleis eet. Maar toe hoor Herrie as mens na die oorspronklike betekenisse teruggaan is dit iets vreesliks wat ‘n mens iemand anders toevoeg. Anton Prinsloo verduidelik die Nederlanders het die woord vir karnallies by die Franse gekry, wat dit weer by die Italianers gekry het – canaglia – wat oorspronklik hondegebroedsel beteken het.

Danksy ‘n onderonsie tussen Max du Preez en die ANC weet ons nou ook wat die Portugees-Maleisiese “maaifoedie” was. En dis nie mooi nie. Maar beide die oorspronklike betekenisse pas vir Herrie nogal mooi by veediewe.

In ‘n heterogene land soos Suid-Afrika moet ‘n mens maar versigtig wees oor hoe ‘n mens idiomaties met iemand van ‘n ander kultuur praat. ‘n Paar jaar gelede moes wyle oom Schalk van Niekerk, oud-Burgemeester en skoolhoof van Bethlehem, se broerskind in Noordwes haar baas oplei. Ja, met die samesmelting van die provinsiale administrasies en die ou tuislandadministrasies het dit soms gebeur – dat die een wat die meeste weet die junior in rang was.

Skielik word sy verkla en dissiplinêr verhoor – sy het glo haar baas gevloek.

Sy was dronkgeslaan, selfs toe die klagstaat kom, want, beweer die verontregte, sy het gesê hy is ‘n kalkoen.

Heelwat uitpluis later blyk dit sy het die man se ma gevloek, deurdat sy vir die man gesê het hy moenie dink sy is onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Hieruit het die baas afgelei sy het sy ma gevloek deur te beweer dat sy dan die kalkoen moet wees. En is sy ma ‘n kalkoen, volg dit “logies” dat hy ook ‘n kalkoen moes wees.

Intussen was die arme vrou hel toe en terug.

Ja nee, dit beteken dan blykbaar ook die Afrikaners moet weet “skiet die Boere” beteken nie eintlik “skiet die Boere” nie.

Dis natuurlik nie net in Suid-Afrika waar beeldspraak gebruik word om nie te sê wat ‘n mens bedoel nie; of is dit nou nie bedoel wat ‘n mens sê nie. Jare gelede kry Herrie ‘n reisgids in die hande vir paslike uitdrukkings in verskillende situasies in verskillende lande. Die een wat Herrie onthou is wat ‘n mens in Duitsland vir ‘n Duitser skree as hy ongeskik voor ‘n mens ingery het. Vertaal lui dit: “Jou vuil Italianer!”

Om vir iemand te skree hy is ‘n vuil Turk sou rassistiese haatspraak wees, en destyds was die Duitsers nog nie so kwaad vir die Grieke soos nou nie. Selfs om nou as “jou pragtige, skoon Griek” uitgeskel te word sal ‘n Duitser laat slange kou.

Herman Toerien